Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 65

Donderdag 27 FEBRUARIE 2020 Lees Jona 3

Оглавление

’n Boodskap van Hom

Die woord van die Here het ’n tweede keer tot Jona gekom: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee” (v. 1-2).

Hier is nog ’n roepingsverhaal uit die Ou Testament: Jona, wat twee keer geroep is. Die eerste keer hardloop hy toe mos weg, ingesluk deur al sy vrese; die tweede keer gehoorsaam hy die roepstem tot op die letter.

Hy begin praat toe, in opdrag van die Roepende, met ’n ander stem. Weg is die huilstemmetjie wat die matrose aansê om hom maar in die see te gooi (Jona 1), skoonveld die bang bidstemmetjie in die vis se maag (Jona 2). Wat die leser hier hoor, is ’n forse verkondiging van God se ultimatum: “Nog net veertig dae …!”

Wat hierop volg, is ver bo enigeen se verwagting, vir seker ook die geroepene s’n: Die stad, met die koning vooraan, hoor die boodskap en begryp die implikasies en kom tot inkeer.

So, lyk dit my, gebeur dit maar wanneer geroepenes hulle streng by die roepende Een se voorwaardes hou, veral dié dat hulle bloot moet sê wat Hy hulle voorsê. Dit sal verhinder dat geroepenes hul eie sousie oor die boodskap gooi. Dié is mos gewoonlik ’n konkoksie vol eie bestanddele, volgens eie voorkeur vermeng en met groot bravade opgedis.

Om stip by die boodskap te bly wat hulle ontvang het, beskerm die geroepenes: Hulle is slegs vir die aflewering van daardie boodskap verantwoordelik. Wat die hoorders daarmee maak, en of hulle dit hoegenaamd wil ontvang, is nie die boodskapdraers se saak nie. Die roepende Een vra nie wonderwerke van sy geroepenes nie – dit is sý werk. Hy vra bloot gehoorsaamheid.

____________________

Lê u woorde in my hart neer, Here. Maak dan my mond oop.

Uit die beek 2020

Подняться наверх