Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 56

Dinsdag 18 FEBRUARIE 2020 Lees Jakobus 2:1-13

Оглавление

Wetliefhebbers

As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg (v. 8).

Om lief te wees vir die wet, kan ons (en Jakobus) nou aan daardie Psalm 119-digter sê, is om jou naaste lief te hê. Maar hy behoort dit te weet, daardie destydse wetliefhebber, want een van die helderste wetgedeeltes in die hele Ou Testament, Levitikus 19, skryf dit reeds voor: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Lev 19:18).

Jakobus beaam dit bloot hier, soos nog ’n wetliefhebber dit ook op Jesus se navraag gedoen het (vgl. Luk 10:27). Maar, soos op daardie dag in Jesus se geselskap, blyk dit dat ook Jakobus se lesers ’n bietjie sukkel om die wet-kloutjie by die praktyk-oor te bring. Destyds het dit van Jesus gevra om ’n besonder omstrede gelykenis te vertel: dié van die barmhartige Samaritaan, waar twee groot wetliefhebbers ver verby die naaste-in-nood gehou het (vgl. Luk 10:31-32). En ’n Samaritaan, van almal, wat lief genoeg vir die onbekende mens was om uit sy pad te gaan om hom te help.

Jakobus se voorbeeld kom uit “julle samekoms” – dalk nog in die kerk! – en skets die diskriminasie teen ’n arm man met ou klere aan. Om mense na die uiterlike te beoordeel, sê Jakobus, is die maklikste ding denkbaar. Jy gee daardie mens net één kyk, en dan weet jy sommer waar sy of hy hoort.

Jakobus vra die wetliefhebbers om ’n moeiliker roete te volg: om te praat en op te tree soos mense wat weet dat barmhartigheid in wetliefhebbers se lewe die laaste woord spreek.

Om te weet hoe warm die Goddelike hart is wat agter elke “jy moet” en “jy mag nie” klop.

____________________

U is die Wetgewer, die Barmhartige. Ek leef van u ontferming.

Uit die beek 2020

Подняться наверх