Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 49

Dinsdag 11 FEBRUARIE 2020 Lees 2 Korintiërs 4:1-12

Оглавление

Kleipotte, en hul inhoud

God … het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal (v. 6).

Dit is hierdie lig wat in die maklik breekbare kleipotte brand. Die kleipot kan maar breek, of dit nou met een harde slag is, of bietjie vir bietjie en stukkie vir stukkie. Die lig sal nie uitgedoof word nie. Dit skyn helder deur die krake.

Want dit is ’n lig wat deur die Ligmaker aangesteek is en deur Hom brandend gehou word. Dit beskik nie oor ander brandstof as die asem van die Gees nie, en dit het geen ander doel as om God se heerlikheid uit te straal nie.

Die kleipot is dus bloot die omhulsel – en ’n erg breekbare een daarby. Dit verweer vinnig, dit sukkel onder druk, dit versplinter soos niks. Hierdie broosheid moet geen verrassing wees nie, skryf Paulus hier. Immers: “Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam …”

Die lig, die Lig, sal egter altyd skyn. Dit is onblusbaar deel van ons lewe. Ons dra die blywende gevolg van God se werk met ons saam. En al brand die vlammetjie soms flou en al ruk en pluk die wind só daaraan dat almal vir die ergste vrees, en al word die omhulsel flenters geskeur, sal nie eens die hel se woede dit kan doodmaak nie.

Hierdie lig word egter nie iewers in ’n klein hoekie gebêre om daar te skyn nie; dit word op ’n lampstaander gesit sodat dit, soos ’n helderverligte stad op ’n berg, kan koers aandui. Kan moed gee aan verdwaaldes. En troos aan eensames.

Só, sê Paulus, word ook die lewe van Christus in ons brose liggaam sigbaar. So is “stukkend” steeds bruikbaar.

____________________

Skyn U in my, met ’n helder glans!

Uit die beek 2020

Подняться наверх