Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 44

Donderdag 6 FEBRUARIE 2020 Lees 1 Johannes 5:1-5

Оглавление

Ook die ander?

Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie … (v. 3).

Nie moeilik nie, sê Johannes. Nou ja …

Ons sal met hom verskil – en dalk net in die geheim, want ons is kerkmense, en kerkmense is nie daaraan gewoond om van Bybelse uitsprake te verskil nie. In elk geval nie openlik nie. Maar, ai, Johannes, hoe sê jy dan die nakoming van die gebooie is “nie moeilik nie”?

Ons hoor dat jy nie juis na al die fyner besonderhede in die Tien Gebooie verwys nie, maar na die oorkoepelende beginsel, naamlik “elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is”.

Maar dit is juis waar ons probleem lê. Sien, ons kan in alle beskeidenheid sê ons vaar nie té sleg met “daardie tien” nie: Om ander gode te dien en om voor beelde te kniel, is ondenkbaar. Ons probeer hard om God se Naam te eerbiedig. Ons is baie dankbaar dat Hy ons aansê om een dag uit die week se sewe-dag-siklus opsy te sit vir beter dinge as die gewone sleur en sukkel. Om ons ouers te eerbiedig kom eerlikwaar nie moeilik nie. Moord pleeg is nie regtig ’n oorweging nie. Met getrouheid in ons verhoudings en die weerhouding van diefstal en die afsku van liegstories probeer ons hard. Solank ons begeertes net niemand skade berokken nie, of hoe?

Maar die liefhêstorie is ’n ander saak. Dit pas my beter om my bes met die Tien Gebooie te probeer; wanneer ek sommige daarvan soms oortree, vra ek doodgewoon om vergifnis.

Maar liefhê? Ook die ánder? Nie sommer nie.

____________________

Ek het net lief wie my liefhet. Vergewe my hierdie gruwelike versuim, Here, en maak mý anders.

Uit die beek 2020

Подняться наверх