Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 53

Saterdag 15 FEBRUARIE 2020 Lees Psalm 119:1-8

Оглавление

As ek tog maar net …

As ek tog maar net op ’n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou! (v. 5).

Hoor dan hoe sug dié man! As ek tog maar net …

Hy sug, ja, hy sug namens ons almal wat hier lees. En hy gee woorde aan ons moedeloosheid met onsself, aan die selfverwyt van mense wat al hoeveel keer gedink het: As ek tog maar net …

Maar, nee, ons weet mos van beter: Ons sal sélf regkom, dankie! Ons sal sélf besluit, sélf die keuses maak, sélf … sélf … sélf.

Ons sukkel wel om sélf die gevolge te dra. Ons roep: “Pappa, help!” Ons soebat: “Mamma, kom kyk!” Ons skreeu: “Here, Here!” Ons word nooit groot nie. Ons leer net mooi niks. Nie uit ons vroeëre foute nie, nie uit ons huidige hubris nie. En dit is nie asof ons nuut op die toneel is nie, asof dit die eerste keer is dat ons só betrap word nie. Ons is óú oortreders. Gewoontesondaars.

Dit kon so anders gewees het; dit móés so anders gewees het. Ons moes daardie eerste keer toe ons ons oortreding agtergekom het – of toe ons uitgevang is – geleer het, gewéét het: Nee!

Maar ons het nie. Ons het weer die plegtig voorgenome vaste koers verlaat, nogmaals voor die aanloklike afdraaipaadjie geswig. En ons kan nou al die verdere verloop voorspel: Dit sal weer eens uitloop op: Vergewe my, Here! Leer die een teenoor wie ek oortree het om my ook te vergewe. En leer my asseblief daardie moeilikste vergifnis van almal: om myself te vergewe.

Dit alles, tog, Here, sodat ek skoon kan begin (die jaar is nog jonk genoeg). Ek wil in hemelsnaam vry kom van daardie herhalende selfverwyt. Die jaar ná jaar se sug: As ek tog maar net …

____________________

Maak gou, Here, asseblief! Leer my nuwe bidwoorde.

Uit die beek 2020

Подняться наверх