Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 54

Sondag 16 FEBRUARIE 2020 Lees 1 Korintiërs 3:1-9

Оглавление

Wêrelds!

… ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies … (v. 1).

Julle gedra julle nog soos wêreldse mense, verwyt Paulus die gemeentelede in Korinte. Soos kinders. Julle het nog nie grootgeword nie.

Harde woorde. En daarmee het Paulus aan geestelike leiers deur die eeue heen ’n stok gegee om hul eie kudde mee te vermaan én te verwyt. “Wêrelds!” het die wekroep geword om gelowiges tot hertoewyding aan te spoor. “Wêrelds!” word die verwyt wanneer dinge in ’n gemeente nie na wense verloop nie. Daar is hierdie teenstelling: geestelik en wêrelds – met “wêrelds” immer die skelwoord, en “geestelik” die gewenste alternatief.

’n Nadere kykie op Paulus se verstaan van dié woord, lewer twee “simptome” op: jaloesie en twis. Net hierdie twee. Daar is niks verder op Paulus se agenda wanneer hy sy gemeentelede as “wêrelds” uitskel nie. Hy verwys nie na hul drinkgewoontes nie, hy sê niks oor uitgelatenheid en selfs uitspattigheid nie. Nee, hy sê hulle is jaloers op mekaar en hulle twis met mekaar.

Interessant, nè? Ons verstaan “wêreldse” gedrag (of is geleer om dit so te verstaan) as die swig voor versoekings, die aanhang van slegte gewoontes, die najaag van plesier. Daarom verwys ons met ’n lang, vroom gesig na “wêreldse versoekings”, “wêreldse gewoontes”, en daardie ou gunsteling: “wêreldse plesier”.

Al waarteen Paulus waarsku, is: Moenie jaloers wees op mekaar nie, staak die getwis: Dit hoort nie by gelowiges nie. Word in hemelsnaam groot! Maar dit is natuurlik aansienlik moeiliker om reg te kry as om nee te sê vir lekker dinge.

____________________

Verlos ons, Here, van ons jaloesie, ons kinderagtige stryery. Ons weet dit maak ons ’n verleentheid vir U en u koninkryk. Leer ons u hemelse alternatief.

Uit die beek 2020

Подняться наверх