Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 57

Woensdag 19 FEBRUARIE 2020 Lees Spreuke 2:1-15

Оглавление

Wysheid

My seun … hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan (v. 1-2).

Kies die wysheid, jong man! Hoor tog nou wat hierdie oukêrel sê met al die insig wat hy ná jare se skade en skande verwerf het: “Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ’n verborge skat.”

Soos ’n pa of ’n wyse oupa gee hierdie leraar raad aan sy jonger leerling. En dit klink eerlikwaar nie na handboekkennis wat hy so kwistig uitdeel nie; eerder na duurverworwe insig. In elk van hierdie vermanings is dít die klaarblyklike grondslag: Ek was al daar, ek het dit beleef, en ek dra die bewyse daarvan soos ’n glinsterende halssnoer om my nek. (Dalk sal hy sê: soos ’n blywende litteken op my siel …)

Wysheid, klink dit uit hierdie kenner se mond, dra ’n inherente teenstrydigheid met hom saam: Enersyds is dit ’n werkwoord (hou jou ore daarvoor oop en span jou in, roep dit, vra daarna, soek dit, spoor dit op). Andersyds is dit ’n geskenk van God (“Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig”).

Dit kan seker nie anders wees nie: Hy is die Gewer van alle goeie gawes, ons is die ontvangers. Ook die geringskatters daarvan. En die deurbringers, die vermorsers. So dikwels ruil ons dié gawe in vir populêre insigte, vir “wat die mense sê”, vir eiewysheid.

Daarom sê dié wyse man: Span jou in om wat God aan jou gee, aan te vat en te bewaar. Dit te gebruik en te ontwikkel. Bly soek na die waarheid in daardie wysheid. Dit sal net goed vir jou wees en jou vele verleenthede spaar.

____________________

Hoe groot is U, o Wysheid, o Waarheid …

Uit die beek 2020

Подняться наверх