Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 55

Maandag 17 FEBRUARIE 2020 Lees Psalm 119:9-16

Оглавление

Blye boodskap?

Ek verlustig my in u voorskrifte … (v. 16).

Verlustig. Niks minder nie. Boonop vreugde, en lof. Alles omdat hy, dié digter, God se voorskrifte so hoog aanslaan. Dit maak hom baie bly, sê hy, dat hierdie bevele so intiem deel van sy lewe is.

Nogal vreemd, nè? Ons is tog nie lief vir wette nie; ons verkies trouens die blye boodskap dat ons van die wette ontslae is. Daarvan vrygemaak, skryf Paulus (vgl. Rom 7:6).

Aha! sal die oplettendes sê, maar nou praat julle Nuwe-Testamentiese taal; die psalmdigter leef in die Ou Testament. Hy ken nie die evangelie nie; die wette is al wat hy het.

Goed en wel. Maar ons moet dít tog nie miskyk nie: Die digter van Psalm 119 sal in sy ellelange lied die lof van God se wet, sy voorskrifte, verordeninge, reëls, deurlopend besing – van letterlik die eerste tot die laaste vers.

Is dit omdat die wette aan hom ’n soort vashouplek gee, soos hy dit in vers 31 sou sê? ’n Greep op die Onbegryplike? Verteenwoordig dit vir hom op ’n manier ’n klompie bakens, soos hy dit inderdaad in vers 67 sou impliseer? ’n Gereelde bevestiging van die Here se teenwoordigheid in sy lewe?

Is dit dít wat hom so bly maak: Dié wette is die Goddelike inspraak in my elkedagse doen en late? Dit herinner my daaraan dat ek aan Hom verbind is?

Wie sal ná al die jare weet, boonop in ’n nuwe bedeling soos dié waarin ons, die Jesusvolgelinge, leef? Maar dit is sekerlik ook nie nodig om hierdie wetliefhebber se motiewe te probeer peil nie. Ons kan ons bloot verwonder aan sy entoesiasme oor sy Here. En ons dan skaam vir die kil, akademiese saaklikheid waarmee ons die Blye Boodskap beredeneer.

____________________

U hou my ook vas, Baken van my lewe. Halleluja!

Uit die beek 2020

Подняться наверх