Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 51

Donderdag 13 FEBRUARIE 2020 Lees Jakobus 1:12-16

Оглавление

Wie se skuld?

Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê:

“Ek word deur God versoek” nie … (v. 13).

Dit lyk my na mense soos ons se ou laai: As ons nie kan “nee” sê wanneer ons voor twyfelagtige keuses te staan kom nie, gee ons iemand anders die skuld wanneer ons willens en wetens “ja” sê. Of ons val doodgewoon by die twyfelagtigheid in, en betaal uiteindelik die prys daarvoor.

En wie is makliker om te beskuldig as God? Hy is tog die Sterke, en ek kán my mos nie teen Hom verweer nie. Ek is eintlik bloot die slagoffer van sy wilsbesluite, ek het geen keuse nie, ek moet my maar berus.

Watter louter onsin. Dit is niks minder nie as vrome opportunisme nadat jy uitgevang is. Die eerste mens het dit al gedoen (dit is nie mý skuld nie, Here, het hy gesê; “die vrou wat U my gegee het … het vir my van die boom se vrugte gegee …” – Gen 3:12). En ons sal straks ook nie die laastes wees wat dit doen nie.

Die feit dat “almal” dit doen, neem nie ons skuld weg nie. Juis nie óns s’n nie, ons wat van beter moet weet. Ons wat van vergifnis lewe en wie se stapelvoedsel genadebrood is. Ons wat met ’n lang gesig loop en smous met “God maak nie ’n fout nie” en “ek moet maar berus by sy wil” – wat eintlik regstreekse beskuldigings is. Terwyl ons goed weet wie die eintlike en enigste skuld dra.

Dit is tog so onnodig. Skulderkenning, soos die waarheid, maak jou vry. Dit breek die knellende bande van selfregverdiging.

Dan is jy gereed om jouself te begin vergewe. En om vanuit God se vrymakende vergifnis te leef.

____________________

Ek weet, o Gewer van alles wat goed is, waar die skuld lê. Help my om van u bevryding te leef.

Uit die beek 2020

Подняться наверх