Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 59

Vrydag 21 FEBRUARIE 2020 Lees Hebreërs 11:23-28

Оглавление

Mooi!

Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy ’n mooi kindjie is (v. 23).

Moses se ouers, sê hierdie skrywer, het gesien hul kind is mooi, en hulle het geglo. Gereelde Hebreërslesers sou dit al raakgesien het: die skrywer se direkte verbinding van “sien” met “glo”. (Amper soos die Jesus-Tomas-konfrontasie in Johannes 20:25-29.)

Hoe maklik tog vir húlle om te glo, want sien elke ma en pa nie maar net hul kind se “mooi” raak nie? Dit staan mos vas: Al gebruik ouers ander woorde om dit te beskryf – dalk “oulik” of “fraai” of “skattig” of “lieflik” – die kind wat vir hulle gebore is, is móói. Dalk “die allermooiste”! Niks vreemds hieraan nie.

Wat egter hier besonder vreemd is, is die “glo”. Want die skrywer werk in dié beroemde elfde hoofstuk met ’n kwistige kwas wanneer hy geloof aan sy Ou-Testamentiese helde toeskryf. Eintlik “toeken”, soos ’n kroon op die kop of minstens ’n roset teen die bors. Maar as jy hierdie heldegalery mooi bekyk, is daar darem ’n klompie vreemde voorbeelde (om nie te sê erg twyfelagtig nie): Abel die asempie, Noag die dronklap, Abraham wat vir God uitgedaag en selfs uitgelag het, Jakob die bedrieër.

Die einste Moses, wat slaan as hy aangesê word om te praat. (Toe nié die allermooiste nie …)

Ja-nee, “glo” in die Hebreërsskrywer se woordeskat lyk anders as in ons s’n. Dalk is dit omdat hy met Jesus se oë na ander kyk, ook na die feilbares, wanneer hy hul waarde vir die Koninkryk bepaal. Dalk sien hy, soos Jesus, ook net die mooi in sondaarmense raak.

____________________

My waarde by U, o Here, word in u oë weerspieël. Die liefdevolle oë waarmee U na my kyk, u minder mooi kind.

Uit die beek 2020

Подняться наверх