Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 63

Dinsdag 25 FEBRUARIE 2020 Lees 1 Konings 19:9-18

Оглавление

Weer gestuur

Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy …” (v. 15).

Ons lees die eerste keer oor Elia die Tisbiet uit Gilead toe hy koning Agab oor ’n komende droogte waarsku. Ons lees hoe die Here hom stuur om by die Kritspruit te gaan skuil. Daarvandaan word hy na die weduwee van Sarfat gestuur dat sy hom kan versorg (vgl. 1 Kon 17:1-9). Drie jaar later word hy weer na Agab toe gestuur (vgl. 1 Kon 18:1).

Ná die beroemde episode met die Baälprofete, en nadat die doodsbenoude profeet onder ’n besembos gaan lê en wens om dood te gaan, word hy weer gestuur – dié keer na die berg Horeb. En ná ’n ontmoeting met die Here word hy nog eens gestuur, Damaskuswoestyn toe, om ’n klomp salwings te gaan waarneem.

Roeping is klaarblyklik nie noodwendig ’n eenmalige gebeurtenis nie. Daar is diegene, soos Elia, wat herhaaldelik beleef het hoe die Here hulle stuur.

Hoe sulke roepings plaasvind, is sekerlik die Roepende se saak. Kom daar ’n stem uit die hemel? Is daar ’n deur wat oopgaan, of een wat toegeklap word? Wie weet? En wie wil tog waag om te sê watter manier die “regte een” is?

Uit Elia se roepingsverhale (ja, meervoud) blyk wel die volgende: Daar is maar Een wat roep, en wanneer Hy roep, stuur Hy ook. Hierdie roeping en sending is ten bate van ander mense.

Maar, sou Elia tot sy groot troos uitvind, dit dien meermale ook tot jou eie heil. Kom nader, sê die roepende Een dan, dat Ek jou kan versorg. O, en jy moet maar jou ore spits. Fyn luister, want daardie stem kom soms soos ’n fluistering in die windstilte.

____________________

Here, ek wil U hoor bó die gedruis van my begeertes.

Uit die beek 2020

Подняться наверх