Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 61

Sondag 23 FEBRUARIE 2020 Lees Matteus 17:1-9

Оглавление

Sondag van die Verheerliking

Luister tog!

Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander … Skielik het Moses en Elia aan hulle verskyn en met Jesus gepraat (v. 2-3).

Ons is vol vrae hieroor: Ons wil weet van die besoekers uit die Ou Testament; ons wonder oor Jesus se voorkoms wat verander en die stem wat uit die helder wolk verklaar: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”

Ons skud só heftig ons kop dat ons nie hoor nie. Nie die stem uit die wolk nie en daarom ook nie die opdrag om na die geliefde Seun te luister nie. (Tog interessant dat die gewoonlik horende-doof-dissipels wel luister, en bang word …)

Maar ons, 21ste-eeuse gelowiges, óns het ons vermoë tot verwondering verloor. Ons voer eerder noukeurig geformuleerde argumente aan oor waar dié verhaal op die spektrum van ons teologiese nadenke pas. Ons spekuleer oor wat diegene uit ’n ander tyd aan Jesus sou kom sê het. Ons rol ons oë oor Petrus se naïewe aanbod om drie hutte te bou.

Ons praat so baie dat ons nie die Stem hoor nie. Ons het in elk geval reeds die vermaning (“Luister na Hom”) se skerp kante plat en skadeloos gevyl. Ons luister lánkal nie meer nie …

Dit is die probleem met al ons verduidelikings en verklarings: Ons is so besig om die Gans Andere te probeer verduidelik (en te verdedig – bid jou aan!) dat ons Hom nie meer hoor nie. Ons het sy stem stil gepraat.

Ons wat so graag met ons postmodernistiese ingesteldheid pronk, juis óns behoort mos daardie tydlose Stem goed te hoor. Juis in ons tyd. Of hoe?

____________________

Leer my, Here, leer my tog luister na die geliefde Seun se tydlose woorde. En help my om dit in hierdie tyd te gehoorsaam en U so te verheerlik.

Uit die beek 2020

Подняться наверх