Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 50

Woensdag 12 FEBRUARIE 2020 Lees Johannes 8:12-30

Оглавление

“Wie My volg …”

Op ’n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (v. 12).

Dit is wat ligdraers doen: Hulle sorg dat hulle baie naby aan die Lig bly. Hulle weet hulle mag nie die spoor verloor nie. Dit sal vir hulle noodlottig wees, én vir die mense wat weer vir hulle volg.

Die pad agter die Lig aan is egter geen gelyk pad nie; dit is ’n pad vol duwweltjies, met steil opdraandes en teenaan gapende afgronde wat dit gevaarlik maak. Om nie eens te praat van al die verleidelike afdraaipaadjies en aanloklike stilhouplekke nie. En, ja, op hierdie pad is daar altyd omdraaikans as jy nie meer wil aanhou nie.

Daar is ook diegene wat nooit op die reis vertrek nie en dus niks van volgelingskap weet nie. ’n Mens moet vir hulle jammer wees. Kyk dan nou die Fariseërs in Jesus se tyd: “Julle ken My nie …” sê Jesus aan hulle; “julle sal in julle sondes sterwe …”

Hulle sal dus nooit die opwinding van die reis ken nie, nie die afwagting op die bestemming nie, nie die vreugde en troos wat medereisigers bring nie. En hulle ken nie die versadiging van die padkos nie, daardie brood wat lewe gee.

Johannes berig dat toe Jesus hierdie dinge gesê het “baie mense tot geloof in Hom gekom” het. Hoe dan anders? Jesus verkondig die Vader aan hulle, en hoe die Vader Hom gestuur het. En hoe die Jesusvolgelinge die paadjie agter Hom aan na die Vader toe volg.

Die boodskap is eenvoudig: Kom agter My aan, en bly in my lig. Ek lei jou na die Lewe toe.

____________________

Waar U lei, daar sal ek saamgaan.

Uit die beek 2020

Подняться наверх