Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 47

Sondag 9 FEBRUARIE 2020 Lees Psalm 112

Оглавление

Wat ek is … Wat ek het …

Dis ’n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen en in al sy sake reg optree (v. 5).

Maklik gesê! Ontferm en reg optree, ja. Maar uitleen?

As ons dié uitspraak met ’n soortgelyke een in ’n soortgelyke psalm met soortgelyke aanprysings vergelyk (Ps 15), wil dit lyk of dié soort lenery boonop rentevry is. Nou ja. Dit is inderdaad ’n goeie mens wat só optree.

Want ons word vroeg-vroeg in ons finansiële lewe gewaarsku teen ’n uitlenery. Helaas. Alte dikwels leer ons dié les op die harde manier: Mense leen maklik en betaal moeilik terug. Sommige verdwyn soos ’n groot speld. Ander diep die een verskoning na die ander op, en word kwaad as jy jou op die oorspronklike ooreenkoms beroep. Vriendskappe sneuwel en families skeur ná ’n gelenery. Bly eerder weg! Dit is die beste raad.

Behalwe as minstens twee Bybelse psalms die teendeel aanprys; dán moet gelowiges dalk twee keer hierna kyk. So ’n tweede kyk gee boonop aan die leser ’n klompie goeie leidrade – wat dalk net die skaal swaai: “genadig, barmhartig en regverdig” en “gee mildelik” is die woorde in Psalm 112 wat die uitlener beskryf. En hoor net hier: “Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Here.”

Kortom: Hier word mense beskryf wat weet dat hul lewe in die Here se hande is. En dat hul besittings uit daardie einste Vaderhande kom. Nie hul lewe óf hul besittings behoort aan hulleself nie.

Dit is mense soos hulle wat die inspirasie aan ’n ander digter, veel later, gebied het om te sing: “Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen.”

____________________

En ek klou so krampagtig vas aan wat ek het – so asof die doodskleed sakke het … Ag, Here, bevry my!

Uit die beek 2020

Подняться наверх