Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 45

Vrydag 7 FEBRUARIE 2020 Lees Jakobus 3:13-18

Оглавление

Die enigste bedoeling

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings … vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg (v. 17).

Jakobus tref ’n basiese onderskeid: wysheid wat van Bo kom teenoor wysheid wat “duiwels” is. Oor laasgenoemde oordeel hy skerp: Dit kom voort uit naywer en selfsug, dit lei tot wanorde en gemene dade.

’n Mens sou kon sê dié soort “wysheid” hoort eerder onder die noemer “slimmighede” tuis. Dit kom na vore wanneer jy ander “op hul plek wil sit” met jou gevatte opmerkings. Wanneer jy komplimente wil inoes – of minstens aandag wil trek – deur jou pittige kommentaar op alles en nog wat. En dit alles ongeag wie jy kwets. Kortweg: ’n Gladde mond bring nie noodwendig wysheid voort nie; maklikpraters is soms ook moeilikheidmakers.

Jy kan in ’n kerklike omgewing, daar waar gelowiges hulle dikwels bevind, ook maar wonder: Getuig hierdie “gesalfde” mond so luidkeels en vol oorgawe oor die Gesalfde alleen, of eerder oor ’n eie “salwing” wat ’n eie agenda verberg?

Nee, alle wyshede kom nie van Bo nie, want die kenmerke van werklike wysheid is duidelik sigbaar. Lees maar weer vers 17. En almal ken dit hieraan: Dit word gebruik om vrede te maak.

As ons dus hierdie Jesuswoorde ernstig opneem: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Matt 5:9), dan weet ons wat hierdie ware wyses se naam is. En waar ons hulle kan kry om ons van ons slimmighede te verlos.

Hulle sal ons ook wys hoe die regte verhouding met God lyk. Én dat ware wysheid se enigste bedoeling is om Hom te eer en om ’n medemens te dien.

____________________

Ja, verlos my, Here, van my maklikpraat, my slimmigheid, my geniepsigheid.

Uit die beek 2020

Подняться наверх