Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 60

Saterdag 22 FEBRUARIE 2020 Lees Psalm 2

Оглавление

Die vrolike God

Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle (v. 4).

Dit is reeds diep in Februarie en daar het vanjaar al soveel gebeur: in elke huis, en in hierdie wye en droewe land waar ons woon.

Hoe is dit gesteld met twee maande gelede se plegtige nuwejaarsvoornemens? En waarheen, dink jy, het hierdie wêreld se groot manne en belangrike vroue se beloftes aan hul minderes en onderdane verdwyn?

Of het jy al so sinies geword dat jy bloot meewarig lag en jou rug vir alles en almal draai? En sug: Ag, waarom praat ons tog hieroor en waarvoor hoop ons nog? Ek het julle lánkal mos gesê …

Vir gelowiges het so ’n rug draai, so ’n oorgee aan moedeloosheid, ook ander implikasies. Hulle vra vrae (al is dit bloot aan hulleself, en beslis met geslote binnekamerdeure) oor hul geloof in ’n goeie God, ’n Here wat beloof het om sy kinders te versorg. Waar, wonder hulle dan, wáár is die Koning van die konings, die groot Regeerder? Kyk Hy weg as daar na Hom geroep word? Het ons – sy verleë, afhanklike, moedelose, beangste kinders – dan van die hemelse radar af verdwyn?

Psalm 2 se sanger sê: Ontspan! Die Here wyk geen aks van sy beloftes af nie. Hy laat hom nie van stryk bring deur knoeiers en kapers nie. Juis ook nie deur diegene wat sy kinders se vreugde gesteel het nie. Dit is Hý wat sê: Julle sal nooit my gesalfdes uit my hand ruk nie. Probeer gerus – Ek lag vir julle!

Mag God se vrolikheid tog sy neerslagtige kinders ook aansteek. Mag Hy ons leer om te vergeet van die eerste twee maande se persoonlike gesanik en landwye gedruis, en te lag oor die dae wat kom.

____________________

By voorbaat dankie, Here, vir u seëninge en versorging. Ek kyk vorentoe, na U, waar my hulp vandaan kom.

Uit die beek 2020

Подняться наверх