Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 58

Donderdag 20 FEBRUARIE 2020 Lees Hebreërs 8:1-7

Оглавление

Veel beter!

Maar nou het Jesus ’n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ’n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is (v. 6).

Die Hebreërsskrywer probeer sy lesers, wat die Ou Testament deeglik ken, daarvan oortuig dat die ou dinge inderdaad verby is (soos Paulus dit in 2 Korintiërs 5:17 beaam) en dat die nuwe gekom het. Die Nuwe. En alles hieraan, alles aan Hóm, is beter.

Die rol van die destydse hoëpriester bied aan dié skrywer ’n heerlike vergelykingspunt om Jesus se werk te illustreer: Dié hoë amptenaar het indertyd gereeld namens sy mense tot God geroep; die nuwe Hoëpriester het langs God gaan stelling inneem, aan sy regterhand. Vir ewig en altyd.

Die ou dae was bloot die voorloper, soos ’n skaduwee wat om die hoek verskyn net voordat die Werklikheid sy opwagting maak. Eens was alles wat die offers betref mensewerk, die vrug van Moses se insig; nou het die Goddelike dit beslissend vervang.

Hier lê ook ’n les vir ons, die Nuwe-Testamentiese Jesusvolgelinge: Moet nooit die Ou Testament geringskat nie; moet dit egter nooit oorskat nie. Jesus het immers self gesê Hy het beslis nie gekom om die Ou Waarheid tot niet te maak nie, maar om dit sy volle betekenis te laat kry (vgl. Matt 5:17-20).

Daar is min geskrifte wat die verband tussen die Oue en die Nuwe so duidelik uitwys soos Hebreërs. Gelowiges moet weet hoe arm hulle is as hulle by die Ou Testament verbyblaai.

Maar Hebreërs wys ons ook op die onvoltooidheid van die ou verbond. Dit het uit die staanspoor geroep na iets groter en beter. En duideliker. Sigbaarder. Soos ’n skaduwee wat uitgroei tot ’n Mens. Soos ’n woord wat Vlees moes word.

____________________

O vleesgeworde Woord van God, pleit tog namens my by u Vader!

Uit die beek 2020

Подняться наверх