Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 62

Maandag 24 FEBRUARIE 2020 Lees Handelinge 7:30-34

Оглавление

Gestuur!

“Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek gesien, en hulle gekerm het Ek gehoor … Ek wil jou na Egipte toe stuur” (v. 34).

Ons val hier in die middel in van die diaken Stefanus se toespraak voor die hoëpriester en die Joodse Raad. Die diaken het mos net die een kans gekry, en dit deeglik benut voordat daardie spul allerregverdiges hom met klippe doodgegooi het.

Eintlik was sy toespraak meer ’n oorsig oor Israel se geskiedenis, en in dié klompie verse het hy dit oor Moses se roeping vanuit die brandende bos. Hoe die Here Moses verseker dat Hy sy mense se klaagsange gehoor het en dat Hy iets daadwerkliks daaraan gaan doen. Hoe Hy toe vir Moses sê: Jy is die man vir wie Ek gaan stuur om my mense te red.

Stefanus sou gou byvoeg dat die Here se mense, daardie reddelose klomp klaers, nie vir Moses wou hê nie. En hy sou sy toehoorders daarop wys dat profete nie in hul eie land geëer word nie. Dat hulle eerder doodgemaak word omdat hul optrede die status quo bedreig.

Toe lê hy dié dodelike verband met hul voorgangers se tyd: “Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor” (Hand 7:52).

Dodelik, ja. Letterlik vir Jesus die Regverdige. En vir Stefanus die boodskapper. Maar ook dodelik vir die geloofwaardigheid van hulle wat hulle in leiersposisies bevind en hulle nie aan hul mense steur nie.

Want is dit nie die vernaamste wat ons as koninkrykskinders elke dag te doen staan nie – om in opdrag van ons Leier daadwerklik op te tree omdat Hy ons stuur? Omdat Hy sy mense se seer gesien en ons geïdentifiseer het as sy gesante en agente.

Dalk is ons hul laaste hoop. Dalk kry ons net dié een kans.

____________________

U ken ook my klaagliedere, Here. Maak my stil, en stuur my.

Uit die beek 2020

Подняться наверх