Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 64

Woensdag 26 FEBRUARIE 2020 Lees 2 Korintiërs 5:20–6:10

Оглавление

Aswoensdag

Lydenstyd

Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely (v. 5).

Op hierdie eerste dag van Lydenstyd lees ons ’n verhaal oor lyding: Paulus s’n, wat hy self vertel. Eintlik sê hy maar wat hy in van sy ander briewe ook sê: hoe hy erge dinge moes deurmaak ten einde die evangelie te verkondig aan almal na wie hy gestuur is.

Die fokus is egter nie op sy swaarkry nie; hy laat val die klem op die versoening wat God deur Jesus gebring het. Hy spoor sy lesers aan, soebat hulle: “Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!” Sorg tog, smeek hy, “dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie”.

Dit sal te erg wees om bloot daaraan te dínk dat Paulus se vele opofferings tevergeefs was. Wat nog van Christus se lyding? Immers: “God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons … vrygespreek kan wees.”

Koninkrykswerk geskied sonder uitsondering in ’n lydensakker, vind Paulus uit. Om in God se wingerd vertrou te word, eis altyd sweet en dikwels trane en, ja, soms ook bloed. En moenie hiéraan twyfel nie, arbeider-in-die-Koninkryk: ’n Vername deel van jou swaarkry lê in soebat en smeek.

Om onwilliges aanhoudend mooi te vra om die genade-aanbod te aanvaar. Om onsekeres dag ná dag te vertel dat God anders is as so baie van sy kinders. Dat Hy nie oordeel nie en dat Hy nie voorwaardes stel nie. Om skeptici te oortuig met die voorbeeld wat jy stel. Onder meer met die uitmergelende ekstra kilometers wat hulle jou sien loop, en al die kere dat hulle aanskou hoe jy jou verneder deur die ander wang te draai.

____________________

U het die hoogste prys vir my betaal, Here Jesus. Sal ek dan terugdeins?

Uit die beek 2020

Подняться наверх