Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 43

Woensdag 5 FEBRUARIE 2020 Lees Filemon vers 1-25

Оглавление

Op grond van die liefde

Daarom, al het ek in Christus die volste reg om jou op jou plig te wys, doen ek liewer ’n beroep op jou op grond van die liefde (v. 8-9).

Ja, Filemon, om ’n Jesusvolgeling te wees, bring bepaalde pligte mee. Dit is wonderlik dat jy dit reeds weet. Ons weet tog dat daar kerk gehou word in jou huis. En dat jy vir Paulus omgee en “die harte van die gelowiges verkwik”.

Paulus het dus, soos hy sê, die volste reg om jou op nog ’n plig te wys, naamlik dat jy jou wegloopslaaf Onesimus by jou sal terugverwelkom. Dat jy hom nie sal kwaad aandoen nie, maar hom in jou huis sal ontvang soos jy Paulus self sou ontvang.

Maar soos jy nou in dié briefie sien, Filemon, gaan Paulus ’n stappie verder: Hy sê jou ontvangs van die wegloper moenie gegrond wees op jou “plig” nie, maar op liefde. Want dit is die motief waaruit Jesusvolgelinge dinge doen – nie uit plig nie, maar uit liefde. En dit is nie eenvoudig nie, nè? Veral nie wanneer dit mense raak vir wie jy nie eintlik wíl lief wees nie. Mense wat jou skade berokken het. ’n Slegding soos ’n drosterslaaf.

Ja-nee, liefde is moeite. Dit vra allereers ’n ommekeer in jou denke. Dit eis ’n verandering in jou hart.

Ag, Filemon, laat ons nou nie vir mekaar mooi broodjies bak nie: Liefde is ’n daaglikse keuse om Jesus te volg. Dié Jesus wat aan sy volgelinge gesê het hulle is die lig vir die wêreld. Daardie volgelinge wat die lig is waar hulle ook al kom, en vir wie hulle ook al in hul huis verwelkom.

Laat ons skyn, Filemon! Laat ons skyn vir Jesus met ’n helder, hélder glans.

____________________

Liewe Here, gee tog dat liefde ook die laaste woord in al my keuses en besluite spreek.

Uit die beek 2020

Подняться наверх