Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 21

Woensdag 15 JANUARIE 2020 Lees Matteus 12:15-21

Оглавление

Sagtheid

Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie … ’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ’n lamppit wat rook, nie uitdoof nie … (v. 19-20).

Matteus berig dat hierdie wondermooie Jesajawoorde in Jesus vervul is. Vir Jesusvolgelinge is dit nie nuus nie; ons weet immers hoe Hy geleef en gesterf het. Vir vreemdelinge en buitestanders en, ja, vir sy teenstanders was dit alles bitter vreemd. Daarom vra hoëpriester Kajafas doodverbaas: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” (Matt 26:62).

Maar Hy het Hom nie teëgesit nie. Dit was eenvoudig nie in sy aard nie; Hy het tog reeds in sy eerste preek dinge gesê soos: “Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie …” (Matt 5:39). En toe noem Hy daardie beroemde voorbeelde: draai die ander wang, gee ook jou boklere, loop die ekstra kilometer.

Dit is hoe Jesus was en, klaarblyklik, hoe Hy ook wil hê sy volgelinge moet wees. Hy het tog ná die voetewas-episode gesê: “As Ek … dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was” (Joh 13:14).

Jesusvolgelinge, diep bewus van hul eie gebrokenheid, gryp die uitspraak oor Hom wat nie afbreek en weggooi en doodmaak en vernietig nie, met hul hele wese aan. Dankie, Jesus! sal hulle oor hierdie sagte Jesushart prewel, en hulle daarin tuismaak.

Dit is daarom tog vreemd dat Jesus se sagte stem soms juis vir hulle irriteer. Dié dat Hy nie op sy vervolgers geskreeu en met hulle getwis het nie. Dat Hy vergifnis predik en versoening verkondig. Wat sou die rede wees dat juis Jesusvolgelinge so graag skreeu en so vinnig naderstaan as daar getwis word?

____________________

Laat, Heer, u vrede deur my vloei … waar haat is, laat ek daar u liefde bring.

Uit die beek 2020

Подняться наверх