Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 18

Sondag 12 JANUARIE 2020 Lees Matteus 3:13-17

Оглавление

“U kom na my toe?”

Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen” (v. 15).

Vandag, op hierdie tweede Sondag in die nuwe jaar, word daar wêreldwyd gelees wat die Evangelieskrywers oor Jesus se doop vertel. Al vier skryf hieroor. Die Johannes-evangelie vertel byvoorbeeld hoe die Doper Hom in die skare uitwys en sê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh 1:29).

Matteus hoor die Doper se verbystering wanneer hy uitroep: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?” Jesus antwoord hom: Doen dit! Want dit is soos God dit wil hê.

Selfs ons, eeue later, kan ons Johannes die Doper se onbegrip indink. Hier staan die Man voor hom, die Een “wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie” (Joh 1:27), en Hy sê: Doop jý My.

Verkeerdom, nè? En Johannes weet dit, en hy sê dit.

Maar dit sou Jesusvolgelinge die afgelope 2 000 jaar gereeld moes uitvind: Wanneer jy met Jesus te doene kry, gebeur dinge andersom as by enigiemand anders wie se spoor jy al gevolg het. Jy maak droog; Hy maak skoon. Jy mors; Hy ruim op. Jy loop weg; Hy kom soek jou. Jy verwyt Hom; Hy seën jou.

Kortom: Hy is Gans Anders as enige ander leier wat ons ooit sal ken. Sy soort opofferende leierskap is ongeëwenaard. Dit is daarom dat Hy later aan sy volgelinge kon sê: “As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was” (Joh 13:14).

Ja, dit is soos dit is: Hy kom na ons toe, en dan stuur Hy ons na mekaar toe.

____________________

Jesus, U gaan voor. Ons, ék, volg in u spoor.

Uit die beek 2020

Подняться наверх