Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 7

Woensdag 1 JANUARIE 2020 Lees Prediker 3:1-13

Оглавление

Nuwejaarsdag

Dit is tyd!

God het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd (v. 11).

Ja, dit is tyd. Oujaar se sandjies het finaal uitgeloop; die nuwe jaar is hier.

Baie mense, gelowiges, sal sê: Vergewe my die gebrek aan opgewondenheid oor die aanbreek van hierdie nuwe jaar. En vergewe my sinisme oor daardie maklike trooswoorde: “Alles sal tóg regkom; ons moet net glo.” Nee, die tyd het ons finaal ingehaal.

Regtig?

Ons lewe dan in God se tyd. Hy is die Een wat nog altyd vir ons tyd gemaak het én aan ons die tyd gegee het om te doen wat ons hand vind om te doen. Tyd is nooit leeg nie. Dit is pasgemaak, sê die Prediker, vir wat gebeur en vir wat gedoen moet word. En tyd loop nie sommer self uit nie; God is tyd se baas en Hy hou die leisels stewig vas.

Boonop is daar die kwessie van “die onbepaalde tyd”. Dit is dié soort tyd wat sommer in ons skoot val. En dit is hier waar ons oë gerus maar kan begin blink, want dit is ’n Godsgawe, ’n bonus soos min. Wat maak ons daarmee?

Hopelik gebruik ons dit. Gryp ons dit met albei hande en ’n gretige hart aan. Dié jaar, soos die vorige een, is korter as wat ons dink.

Laat jou hande en voete en hart en verstand vandag maar vir oulaas rus in dié wete: Ons leef in sy hand en ons eet uit sy hand. Dit was nog altyd so en dit sal altyd so wees, vir tyd én ewigheid.

____________________

Help my, Here, om die tyd wat U my gee goed te gebruik. Om dit nie op nuttelose bekommernisse of woede of wraakgedagtes te verspil nie.

Uit die beek 2020

Подняться наверх