Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 15

Donderdag 9 JANUARIE 2020 Lees Handelinge 9:1-9

Оглавление

Stop net hier!

Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (v. 4).

Dit moes bloot ’n verdere triomfantelike stap in sy ywer vir sy godsdiens gewees het; toe word dit die eerste treë op ’n splinternuwe reis. Saulus se Damaskus-uitstappie sou mos effens anders verloop as wat hy gedink het dit sou. Aanvanklik is hy bloot in sy spore gestuit, en eers ’n ruk later het die eerste skuifeltreetjies op die nuwe roete begin.

Maar ons loop sy storie vooruit: Daar was eers die besoek aan die Jerusalemse hoëpriester, en toe, met ’n getuigskrif van sy getrouheid in sy binnesak, pak Saulus en ’n klompie reisgenote die pad aan na die groot stad met die baie sinagoges: Hiér sal hy sy ywer vir sy godsdiens weer laat blyk. Hiér sal hy aan die belangrike mense wys waartoe hy in staat is. Hiér sal hy die Jesusvolgelinge, soos in Jerusalem, met mening uitroei. Hiér sal hy …

Toe slaan die Here hom plat. Saulus haal nie eens die stad nie. Hy lê met sy gesig in die sand, magteloos. Én blind, sou dit aanstons blyk. En hy hoor hoe iemand met hom praat. Iemand Anders as waarop hy gereken het.

Sy reisgenote moes hom ophelp en die stad in lei, en hulle gaan besorg hom in Reguitstraat by ene Judas se huis. Waar hy niks eet of drink nie, steeds blind. Nie juis die triomftog Damaskus in wat hy voorsien het nie …

Maar, sou hy spoedig leer, gelowiges se reise verloop nie dikwels langs goue strate en op rooi tapyte nie. En die blinde begin sou uiteindelik ook ’n bonus wees; nuwe oë is ’n noodsaaklikheid om noukeurig op Jesus se spoor te bly.

____________________

Ek verwonder my aan die pad wat U met sondaars loop, Here. U geduld, u nuwe planne.

Uit die beek 2020

Подняться наверх