Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 14

Woensdag 8 JANUARIE 2020 Lees Efesiërs 4:7, 11-16

Оглавление

Grootword

Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie (v. 14).

Dit is die moeilikheid met godsdiens: die baie leraars. Nie almal bedoel dit ewe goed nie, en nie almal weet genoeg van wat hulle aan ander (wil) leer nie. Sommige is doodgewoon skelm. Paulus se oplossing hiervoor is eenvoudig: Gelowiges moet grootword.

Dit is nogal ’n harde oordeel, of hoe? Ons kan mos kies na wie ons wil luister en wie se boodskap vir ons aanvaarbaar is en goed is om te hoor. Ons wil nie hiéroor ook voorgesê word nie.

Jammer, sê Paulus, maar dan bly julle kinders. Kleuters wat rondgestamp word. Dikwels deur boelies-met-’n-breë-glimlag, rampokkers-vol-kammawaarhede, wat dalk ook reeds albei oë en minstens een hand op jou beursie het. Sulke skelms floreer op ander se naïwiteit en vrese.

As julle dit wil vryspring, sê Paulus, moet julle grootword. Moet julle julle laat leer dat godsdiens, die diens aan God, afspeel in ’n omgewing waar diens aan ander mense gelewer word. Moet jy jou laat oortuig dat jy ’n deel van Christus se liggaam is. Moet jy jou laat leer deur mense wat die Goeie Nuus verkondig. Wat nie apostels van die oordeel en profete van profyt is nie.

Dan sal jy agterkom, sê Paulus, dat jy en jou medegelowiges “in alle opsigte groei na Christus toe.” Bly tog net by die waarheid, kom tuis by die liefde. En moet dan nie verbaas wees as jy agterkom dat jy nie meer so lig in die broek is dat die gevaarlike golwe en dodelike dwarswinde jou sommerso meevoer nie.

____________________

Leer my, Heer, u regte weë. Wys die regte pad my aan.

Uit die beek 2020

Подняться наверх