Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 16

Vrydag 10 JANUARIE 2020 Lees Handelinge 9:10-19a

Оглавление

“Hier is ek, Here”

“Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly” (v. 16).

Ananias is net ’n voetnoot in die kerk se geskiedenis, maar hy sal altyd onthou word as die een aan wie die Here opdrag gegee het om Saulus in Damaskus te gaan haal. Nie dat Ananias dadelik ingestem het nie; hy het immers genoeg van die man se onsmaaklike reputasie geweet.

Maar die Here vra nie heldedade nie; net maar dat Ananias die blinde, hulpelose man huis toe bring. Dat hy hom kos gee; hy het drie dae lank niks geëet nie.

Ja, gaan maar, Ananias, daardie arme man is skadeloos. Hy sal niks aan jou en jou medegelowiges doen nie, nie ná wat Ek aan hom gedoen het nie. Die dae toe hy My vervolg het, is vir altyd verby. Nou sal Ek hom wys hoe hy vervolg gaan word.

En jy, Ananias, sal weldra ook uitvind dat Ek daardie ellendeling gekies het om my Naam aan heidene en hul heersers te gaan verkondig. Dan sal jy weet watter rol jou gehoorsaamheid aan My, ten spyte van jou skeptisisme en selfs vrees, in hierdie mens se lewe gespeel het.

Dit was nog altyd ’n sleutelfaktor in koninkrykstories: koninkrykskinders, hoe bewerig ook al, se gehoorsaamheid aan die Koning. Nee, hulle is nie almal ewe dapper of die beste voorbeeld van godvrugtigheid nie. Hulle haal feitlik nooit hoofopskrifte nie. Hulle word wel onthou vir hul gehoorsaamheid aan God, ook wanneer dit teen die heersende stroom in gaan en heel moontlik tot hul eie nadeel kan wees.

Hulle is in geen opsig kampioene nie, nee. Net maar God se afhanklike kinders wat op ’n keer gesê het: “Hier is ek, Here. Stuur my!”

____________________

En hier is ek ook, Here. As U wil, gebruik my.

Uit die beek 2020

Подняться наверх