Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 13

Dinsdag 7 JANUARIE 2020 Lees Efesiërs 3:14-21

Оглавление

Daardie verbysterende liefde

Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan … (v. 19).

Nee, ons verstaan dit nie. En al bid Paulus so ernstig dat die gelowiges die omvang van Christus se liefde sal begryp, “hoe wyd en ver en hoog en diep” dit strek, kan ons bloot sê: Jammer, ons verstand is te klein.

Paulus probeer sy bes om gelowiges iets van die oorweldigende Christusliefde te laat verstaan: Hy praat in die oortreffende trap, hy gebruik ryk metafore, die sterk uitdrukkings borrel uit sy mond en sy hart. Maar uiteindelik klink sy gebed meer na ’n moedelose sug as ’n vaste oortuiging. Hy ken sy mense …

Boonop, sal ons weet, lyk dit dikwels só: hoe groter die verstand, hoe minder die begrip vir Christus se liefde. Dan klink dit só: Ek is voluit lief vir myself; ek het niemand anders se liefde nodig nie.

Dit is dán dat hierdie Jesusuitroep ’n onheilspellende klank verkry: “Ek prys U, Vader … dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het” (Luk 10:21).

Dit lyk dus of Paulus en al die hedendaagse “advokate vir Christusliefde” gerus maar kan ophou probeer. Want diegene wat wel die werklike omvang van die wydte, hoogte en diepte van hierdie liefde kan begryp of bereken, stel nie noodwendig daarin belang om dit te doen nie.

Dit is dikwels die eenvoudiges en die sogenaamde oningeligtes wat dit die beste verstaan. Hulle wat weet hoe afhanklik hulle van hierdie verbysterende groot liefde is – al is dit bloot omdat hulle kan onthou hoe ver daar na hulle gesoek is. En hoe hoog daar gereik en hoe laag daar gebuk is om hulle van hulleself te red. Húlle weet.

____________________

Ek weet, Here! En dit maak my baie bly.

Uit die beek 2020

Подняться наверх