Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 4

Voorwoord

Оглавление

Uit die Beek is Afrikaans se oudste Bybelse dagboek. Die eerste weergawe hiervan het in 1925 verskyn, in Nederlands, en word sedert 1927 Uit de Beek genoem. Die naam is waarskynlik ontleen aan Psalm 110 se laaste vers soos dit in die Nederlandse Bybel lui: “Hij zal op den weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen.”

In 1929 is dié dagboek vir die eerste keer in Afrikaans gepubliseer, met die titel wat dit sedertdien dra.

Die daaglikse Skriflesings in dié uitgawe, soos in die voorafgaande twee, volg grootliks dié van die bekende leesrooster Revised Common Lectionary (RCL). Dié rooster met teksgedeeltes is geskep om kerke oor die wêreld heen te help om die groot momente in die gang van die liturgiese jaar saam te volg: Advent, Epifanie, Lydenstyd, Pinkster, Koninkrykstyd.

In 2020 kom die liturgiese Jaar A aan die beurt. En Jaar B met die aanbreek van Advent. Dit beteken dat hierdie siklus nou voltooi is: Die drie liturgiese “jare” soos dit deur die RCL gebruik word, is in die Uit die Beek-uitgawes van 2018, 2019 en 2020 eerbiedig.

Baie dankie aan almal wat my tot hiertoe op ons daaglikse reis vergesel het. Mag 2020 se laaste skof ons gereeld herinner aan Jesusvolgelinge se opdrag om lief te hê, en om verwonderd te bly dat Hy daagliks ons dors op sy unieke manier les.

BAREND VOS

Pearly Beach, 20 Julie 2019

Uit die beek 2020

Подняться наверх