Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 19

Maandag 13 JANUARIE 2020 Lees Handelinge 10:44-48

Оглавление

Verbaas?

(Die Joodse gelowiges) … was … baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie (v. 46).

Dit was klaarblyklik vir hulle bitter vreemd, selfs ondenkbaar: God se genadegawes word ook aan vreemdelinge gegee. God is tog óns God, sy Seun is óns Messias, sy Gees het intrek by óns geneem. Vanwaar nou dié Goddelike belewenis deur … húlle?

Wanneer ons 2 000 jaar later oor hierdie verbasing lees, weet ons reeds dat dit ’n óú storie is. Vir Jesus se volgelinge, en die nuuskieriges wat na Hom geluister het en kom kyk het wat Hy doen, sou dit ’n bron van gereelde verwondering (en straks ook irritasie) wees, dié dat sy optrede so sonder selfbewustheid was, so oop vir almal. Dat sy arms so ver gereik het, sy uitnodigings so gul was, sy goedheid so grensloos.

Petrus begryp dit. Daarom sy gevolgtrekking hier: “Wat kan dan verhinder dat hulle nou … gedoop word?”

Hulle. Die laatkommers, die buitestanders, die minder goeies, die “ander”.

Dit was nog altyd vir goeie en getroue gelowiges ’n probleem, en soms selfs ’n steen des aanstoots: Hoe is dit dan dat “hulle” so maklik en so gou en so volledig in die Goddelike genade deel? Ja, die destydse omstandighede verskil heelwat van die huidige, maar die beginsel is identies.

Die eintlike vraag is dus allereers aan begenadigdes gerig: Hoekom is ons verbaas dat God goed is? Dat Hy volhardend soek, dat Hy volledig red, dat Hy volkome vergewe? Hoekom staan ons gereed, gewapen met ons lysie voorwaardes, en pas die hemelse hekke op? Wie het ons daarvoor aangestel?

____________________

Uit genade het U my gered, sonder verdienste. Dit is wat U doen, dit is wie U is. Ek loof U daarvoor!

Uit die beek 2020

Подняться наверх