Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 20

Dinsdag 14 JANUARIE 2020 Lees Jeremia 1:4-10

Оглавление

Sý woorde in jou mond

Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê (v. 9).

Dit is sekerlik een van die bekendste roepingsverhale in die Bybel, dié van Jeremia. Ewe bekend as sy aanvanklike verskoning (“ek is nog te jonk”), is die Here se reaksie daarop: Ek gee jou mý woorde.

Wat ’n Goddelike korreksie! Here, ek het (nog) nie genoeg woorde nie … Toemaar, my kind, Ek gee jou van mý woorde!

Dit is tog interessant, die ding met die Here se vertrouelinge en hul sprakeloosheid. Dit was mos een van Moses se besware ook, dat hy nie goed kon praat nie (vgl. Eks 4:10), en Saulus was blind, hulpeloos en heeltemal stomgeslaan nadat die Here hom aangekeer het (vgl. Hand 9:7-19). Jesaja het sy “onrein” woorde bekla toe die Here hom roep (vgl. Jes 6:5) en die priester Sagaria was ook sy woorde kwyt toe hy God se grootheid aanskou (vgl. Luk 1:22).

Bybellesers sal weet dat die Here toe vir elke stomme ’n plan gehad het, ook vir die hakkelaar. En dat toe die Goddelike plan eers in werking kom, die woorde eenvoudig uit hierdie eens woordeloses gestróóm het. Saulus sou die wêreld vol met sy woorde reis. Jesaja en Jeremia se befaamde woorde sou daartoe lei dat die Bybelkenners hulle as “groot profete” klassifiseer. Sagaria sou ’n beroemde loflied sing wat tot vandag toe deur die ganse Christendom weerklink, en Moses die hakkelaar sou ’n volksbevryder word.

Om te dink: Nie een van hulle kon aanvanklik ’n behoorlike woord uitkry nie. En dit laat jou twee keer dink oor die allesweters en baiepraters se flinke sêgoed en kontant uitsprake. Daardie “Here, Here”-sêers. Die “God! God!”-skreeuers. Wie se woorde gebruik húlle?

____________________

Here, salf my lippe. En keer my wanneer ek te vinnig en te maklik oor U wil praat.

Uit die beek 2020

Подняться наверх