Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 17

Saterdag 11 JANUARIE 2020 Lees Handelinge 9:19b-31

Оглавление

Om te verander

Saulus het na Jerusalem toe gegaan en het geprobeer om daar by die volgelinge van Jesus aan te sluit, maar almal was vir hom bang … Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm … (v. 26-27).

Vrese en vooroordele word nie so maklik afgeskud nie. Buitendien het Saulus se reputasie soos in ’n bloedspoor agter hom gelê, en niemand kan die Jesusvolgelinge verkwalik dat hulle nie sommer geglo het hierdie jakkals het sy streke laat staan nie. Dit verg een van hul eie mense, een uit die binnekring, om hom oor die gevreesde Saulus te ontferm en die vrese te probeer besweer.

Natuurlik waag Barnabas baie. Wie sê Saulus se verandering is eg? En wat gaan met Barnabas gebeur as Saulus na sy ou weë terugkeer?

En Saulus self? Wat die Joodse godsdiensleiers betref, was dit ikabod. Hulle sou hierna gereeld probeer om hom te muilband en selfs te vermoor. Terwyl die Jesusvolgelinge hom doodgewoon nie vertrou nie. Hy bevind hom dus in ’n soort niemandsland, wat hom sekerlik moes laat wonder het of hy die regte ding doen.

Is dit dan die prys vir verandering? Is die ou weë nie maar die maklikste, die veiligste, nie? Hierdie weg van die minste weerstand? Om te verander ontwrig jou lewe, én ander mense s’n. Dit vra van almal om aanpassings te maak. Veral die moeilikste soort: aanpassings in jou denke. ’n Besef dat ou idees nie meer geld nie en dat vroeëre vastighede nou nie meer so vas staan nie. En wie sien regtig daarvoor kans?

Dit is hoekom ’n verandering in mense se denke God se werk is, omdat dit ’n kragtige Hand vereis. En dit is hoekom dit koninkrykswerk is om vir iemand wat verander het in die bres te tree, want jy plaas jouself op die spel.

____________________

Maak oop my oë, Here, en my hart. Leer my u wil.

Uit die beek 2020

Подняться наверх