Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 34

Dinsdag 28 JANUARIE 2020 Lees Filippense 2:12-18

Оглавление

Verlostes

Julle moet julle … daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (v. 12-13).

Julle moet julle daarop toelê. Julle inspan. Julle moet konsentreer. Julle moet fokus.

Ai, hoekom gebeur dit nie sommer vanself nie? Kan dit nie maar die doodnatuurlikste ding in die wêreld wees om soos ’n verloste mens te leef nie?

Klaarblyklik nie. Ons kry dit nie reg om “goed” te wees nie; die goedheid in ons lewe is ’n gawe wat dikwels diep weggesteek word. Die einste Paulus skryf mos: “So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte” (Rom 7:21).

Daarom is dit soveel moeite om te leef soos ons Verlosser wil hê ons moet leef. Ons is nie altyd lus nie; dié soort lewe eis te veel van ons. Ja, ek kan dit later oorweeg. Dalk. Eendag. Net nie nou nie; nou is ek eers te besig om my lewe in diens van myself te leef.

En laasgenoemde soort lewe vra al my aandag; die eindelose liefde wat ek vir myself het, hou my voltyds besig. Ek moet my voortdurend afvra: Wat is daar vir mý in hierdie saak? Ek moet knaend op die uitkyk wees vir wat ek begeer om in mý skoot te val. Ek lê my toe op insamel, toe-eien, om te gryp as dit moet. Dan hou ek wat ek het.

Ek is harde werk. Dat die Here kans sien om my gewillig en bekwaam te maak om as ’n verloste mens te lewe, is ’n wonderwerk wat elke dag besig is om te gebeur.

____________________

Ag, Here, ek is jammer dat U so met my moet sukkel. Moet asseblief nooit moed opgee om my te oortuig van my roeping as verloste mens nie.

Uit die beek 2020

Подняться наверх