Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 37

Vrydag 31 JANUARIE 2020 Lees 1 Timoteus 5:17-24

Оглавление

Doendinge

Ek beveel jou … om jou aan hierdie voorskrifte te hou … (v. 21).

Paulus is vol praktiese raad vir sy jong leerling: Maak sus en so in die gemeente; pasop vir dit en dat en die ander ding. Hy deel selfs ’n gesondheidwenk uit ter wille van Timoteus se “herhaalde ongesteldhede”: Drink minder water, jong man, en meer wyn!

Deurentyd kry die latere leser die idee dat Paulus goed weet waarvan hy praat. Dat hy sy vriend en kollega allerlei skade en skande, wat hy dalk self oorgekom het, probeer spaar. Ook dat daar vele “moenies” op die pad van leierskap opdoem.

Ten slotte blyk die rede vir sy waarskuwings duidelik: sonde, teenoor goeie dade. En hoe onafwendbaar dit is dat alles uiteindelik aan die lig sal kom. Almal weet dit, Timoteus. En as hulle dit nog nie weet nie, sal hulle dit spoedig uitvind. Doen dus wat jy weet reg is.

So gaan dit met evangeliedienaars – dit is nou dié wat dit as ’n voltydse beroep beoefen én diegene wat dit as hul roeping-tussen-vele-ander-verpligtinge beskou: Daar word dinge gedoen. Ja, Christenwees is ook wéés, maar Christene word behoorlik uitgeken aan wat hulle uitrig. Liefde is immers ’n werkwoord, en barmhartigheid is geen teoretiese saak nie. Leierskap vra voorvat en vasvat, en ’n volgeling van Jesus is ’n opteller-en-draer, ’n trane-afdroër, ’n voorbidder en ’n voetewasser.

Dit is daarom dat Paulus se raad so eenvoudig en op die man af is, so haalbaar, doenbaar. En sy waarskuwings oor sonde, ook dié wat weggesteek word, so onheilspellend. Hy wil maar sê: Jou doen en late het ’n aantoonbare invloed in Christus se kerk en koninkryk. Oorweeg dus goed wat jy moet doen en wat jy moet los, en spring dan aan die werk.

____________________

U wys my so duidelik wat ek moet doen, Here. Gee my die moed om gehoorsaam te wees.

Uit die beek 2020

Подняться наверх