Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 39

Saterdag 1 FEBRUARIE 2020 Lees Psalm 15

Оглавление

Sy heilige berg?

Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is … (v. 2).

Hier het ons daardie bekende retoriese vrae wat dikwels as ’n votum voor ’n erediens gebruik word: “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef?” Dié vrae is bloot die aanleiding tot die breedvoerige antwoord: Die onberispelikes, die waarheidpraters, die model-medemense, die eersteklasgelowiges – dit is húlle wat tot by God mag kom.

Kyk jy na die volledige lysie kwalifiseerders, dan wéét jy: Die kanse dat jy aan hierdie eise voldoen, is skraal. Onmoontlik.

Op hierdie eerste dag van die tweede maand in die nie-meer-so-nuwe-jaar, op die vooraand van die Sondag, moet ongeveer almal hoor dat hulle nie in “God se woonplek” mag kom nie. Dat sy “heilige berg” vir hulle gesluit is.

Nou kan ons ons slim hou en allerhande vrae vra oor waar God se woonplek of sy heilige berg dan nou is, en allerlei opmerkings maak oor die Nuwe-Testamentiese kerkbegrip en God se onbetwyfelde teenwoordigheid by ons … en die punt volledig mis. En dit is dat Godskinders hul plek moet ken.

God se kinders moet weet dat Hy nie hul speelmaat is nie. Nie ’n skadelose ou omie met ’n wit baard nie. Hy is heilig. “Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig” (1 Tim 6:16). Sy kinders word nie in dieselfde asem as Hy genoem nie.

Dat Hy hulle voor sy oë duld, is bitter vreemd. Dat Hy hulle liefhet, is totaal onbegryplik. Dat Hy dit alles boonop sonder voorwaardes doen, is ’n wonderwerk sonder weerga. Dat Psalm 15 se harde waarhede in bloed verdrink het wat van ’n kruis op ’n onheilige heuwel genaamd Kopbeenplek afgestroom het – dít is die verstommende evangelie.

____________________

Ek staan voor U omdat Jesus gekruisig is. Ek loof u Naam!

Uit die beek 2020

Подняться наверх