Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 42

Dinsdag 4 FEBRUARIE 2020 Lees Jakobus 5:1-6

Оглавление

Julle rykes …

Ja, julle hou die loon agter van die werkers wat julle lande afgeoes het. Dit skreeu ten hemel; die geroep van dié wat geoes het, het tot by die Here die Almagtige gekom (v. 4).

Sjoe, maar Jakobus is kwaad!

Bybellesers hóór sommer, selfs in hierdie vertaalde weergawe, die uitroeptekens soos hy skel en dreig en vinger wys en gróót moeilikheid belowe aan dié wie se spoggerige klere deur motte opgevreet en wie se skatte deur roes vernietig sal word.

Ons kan gerus glimlag oor hierdie klein tirade teenoor rykes, en haastig terugblaai na Jesus se Bergpreek waar Hý waarsku teen die versameling van skatte wat aan mot en roes onderworpe is (vgl. Matt 6:19). Ons kan ons selfs heimlik verlekker in hoe die “rykaards” – ons almal ken ’n hele paar – hier en in etlike ander gedeeltes in die Bybel op hul blink baadjie kry.

Maar dan mis ons Jakobus se eintlike punt: die uitbuiting van armes en weerloses. Dit is dan ook net hier dat ons meewarige glimlag verdwyn. Want, ja, ons ken ’n hele hand vol rykes, maar ons ken ook ’n hele land vol armes en weerloses. Vir elke herehuis in ons stad of dorp is daar ’n uitgestrekte buurt vol agterkamertjies en sinkhutte.

Dit is die inwoners van sulke buurte wat in die eienaars van die groot huise, en hul bevoorregte bure, se diens is. En dit is voor hierdie werkgewers wat Jakobus kom staan en sê: Wanneer laas het jy ’n sommetjie gemaak oor die lewenskoste van die brose mense in jou diens? En, voeg hy by, kyk tog jou Here in die oë as jy antwoord.

____________________

Maak my stil, Here, wanneer ek kla en kla met ’n witbrood onder die arm. En laat my hulle raaksien wat my in die oë kyk vir hul stukkie kos.

Uit die beek 2020

Подняться наверх