Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 35

Woensdag 29 JANUARIE 2020 Lees Lukas 1:67-79

Оглавление

Inmeng

“Soos die môreson sal Hy opgaan … om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede” (v. 78-79).

Die ou priester Sagaria sing hierdie loflied oor sy seun se roeping om die pad vir Jesus gelyk te maak. Want Jesus sal die Een wees wat lig bring aan dié wat in die duisternis voortploeter. Hy, die Vredebringer.

Tot vandag toe is Hy, die Jesus wat Lig heet, die grootste uitdaging denkbaar vir bakleierige mense soos ons. Vir ons, donker-konkelaars, wat ons lewe deurbring in ’n poging om die lig te ontwyk. Ons loop ons om elke hoek en draai teen Hom vas. Hy betrap ons telkens op heterdaad. Hy konfronteer ons deurgaans met ons doen en late. Hy los ons nie as ons Hom wegjaag nie en Hy wag nie gedweë wanneer ons ons rug vir Hom draai nie. Hy meng in.

Dit is hoe sy bemoeienis met ons lyk. Sagaria noem dit “die genadige ontferming van ons God”. Goddank hiervoor. Want hoe lank sou dit duur voordat ons onsself en ons medemens vernietig? Hoeveel skade sal ons nóg aan die Koninkryk aanrig as Jesus ons nie voorkeer nie?

Dankie, dan, vir Johannes die seun van Sagaria en al die ander seuns en dogters vir wie God as padmakers inspan. Dit is hulle wat my help om Jesus raak te sien. Hulle leer my dat dit nie nodig is nie, en in elk geval tevergeefs is, om Hom te probeer vermy.

Dat sy vernaamste beweegrede is om my te verlos van my selfingeslane weg wat pylreguit op ’n afgrond afstuur.

____________________

Ek dank U vir die mense wat U oor my pad stuur. Ek hoor u stem in hul woorde, ek sien u hand in hul optrede.

Uit die beek 2020

Подняться наверх