Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 30

Vrydag 24 JANUARIE 2020 Lees Galasiërs 2:1-10

Оглавление

Dié wat so kyk

Hulle werklike doel was om ons lewe in die vryheid wat Christus Jesus vir ons verwerf het, dop te hou, sodat hulle weer slawe van ons kon maak (v. 4).

Ons het hulle reeds in Jesus se tyd in aksie gesien: dié wat kyk of iemand nie dalk ’n godsdienswet oortree nie. Toe Jesus op ’n keer ’n sieke in die tempel teëkom, het hulle hom “dopgehou” om vas te stel of Hy nie die een of ander sabbatsvoorskrif vergeet het nie (vgl. Luk 6:7). En toe Hy ’n ander keer by ’n vooraanstaande gaan eet, is Hy insgelyks “fyn dopgehou” (vgl. Luk 14:1).

Paulus is meedoënloos in sy kritiek teen hierdie mense. Hy ontbloot hulle vir wat hulle is: indringers wat die gemeente onder vals voorwendsels binnekom en hulle as medegelowiges voordoen. Maar, sê hy hier, ons gee nie aan hulle toe nie; hulle bedreig die waarheid van die evangelie.

Wat presies is hierdie bedreiging, waar lê die valsheid?

Dit is mense wat ou, uitgediende wette oor byvoorbeeld die besnydenis wou afdwing. Hulle sukkel om die gawe van Christelike vryheid te omhels. Hulle kan hulle nie ’n godsdiens sonder reëls en regulasies voorstel nie. “God” rym vir hulle sonder meer met “gebod”, en dalk veral “verbod”.

Sjoe, daar is ook niks nuuts onder die son nie! Nee, daar is wel deesdae ander allerheilige begrippe as “sabbat” en “besnydenis”; trouens, elke geslag sedert Jesus se tyd het ’n eie verbete vasklou aan die een of ander stuk uiterlike godsdienstigheid geken. Maar altyd met dié gemeenskaplikheid: uitsluiting.

Daar was nog altyd mense, kerkmense, wat met ’n lys voorskrifte gewapen die vrye toegang tot God se genade probeer versper. Kyk net hoe fanaties blink hul oë, kyk net hoe vals die glimlag.

____________________

Gee my die genade, Here, om deur u sagte oë na ander te kyk.

Uit die beek 2020

Подняться наверх