Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 40

Sondag 2 FEBRUARIE 2020 Lees Miga 6:1-8

Оглавление

Jy weet dit mos

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is … (v. 8).

Hier word ’n boeiende tweegesprek tussen die Here en sy volk gevoer: Hy kom met ’n aanklag; die volk vra wat hulle Hom moet betaal sodat Hy hulle kan vergewe. Dan antwoord Hy dat hulle dit goed weet: Laat reg geskied, bewys liefde en trou, lewe bedagsaam.

Dit is deels as gevolg van Skrifgedeeltes soos dié dat gelowiges nooit kan sê hulle het nie geweet dat daar reeds in die Ou Testament ’n Goddelike frons sigbaar word as mense Hom met allerlei offergawes probeer omkoop nie. Dat Hy nooit hul bydraes vra nie, maar hulleself.

Vir Jesusvolgelinge wat hul lewens- en aanbiddingsriglyne in die Nuwe Testament vind, is dit sekerlik algemene kennis, nee, tweede natuur, om hul dankbaarheidslewe aan God te wy. Hulle weet tog dat die Paaslam reeds geslag is, dat die Bloedoffer reeds gebring is, dat die Eniggeborene reeds oorgegee is. Die prys is betaal; die versoening is ’n werklikheid.

Al wat oorbly, is ’n lewe vol dankbaarheid. Een wat toegewy word aan reg en geregtigheid, liefde en trou, en bedagsaamheid.

Eenvoudig, nè?

Té eenvoudig, sal baie brom. Gans te maklik, hierdie ontsnapklousules uit God se oordeel. Jy moet jou kant bring, jy moet jou deel doen. God help net dié wat hulleself help.

Só sê hulle. Dis tog interessant dat dit juis gelowiges is wat só sê. Diegene wat veronderstel is om van beter te weet. Hulle wat hopelik hul eie broosheid intiem ken. Dit is hulle wat tog moet weet dat ’n dankbaarheidsoffer aan God in die hande van ’n medemens gegee word. Jou “dankie, Here” kom sonder meer in ’n medebrose se hand en hart tuis. Jy weet dit mos.

____________________

Ek weet, Here! Red my uit my vergeetagtigheid.

Uit die beek 2020

Подняться наверх