Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 36

Donderdag 30 JANUARIE 2020 Lees 1 Petrus 3:8-12

Оглавление

Luister na my, want …

“Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!” (v. 11).

Petrus haal hier uit ’n Dawidlied aan, Psalm 34, wat in ’n swaar tyd geskryf is. Dalk het Dawid dit op ’n swaar manier geleer: Draai jou rug vir die kwaad, doen wat goed is. Soek vrede se spore, volg dit nougeset. Dalk was dit destyds ook maar moeilik, juis vir hom wat “’n man na God se hart” genoem word (vgl. 1 Sam 13:14; Hand 13:22).

Want dat goeddoen groot moeite vra, is ’n ongelukkige feit. En dat wegbly van die kwaad baie gevra is, eweneens. Met vrede soek waarskynlik die swaarste opdrag van almal – sodat ons dit oor die algemeen bitter moeilik vind om mense na God se hart te wees. Nee, eintlik onmoontlik.

Die vraag bly dan: Hoekom dié raad, hierdie opdrag, as Petrus (en Dawid) weet dat dit eintlik ’n onbegonne taak is? Moet ons Dawid se aangehaalde motivering – “as iemand die lewe liefhet en ’n lang lewe begeer” – ernstig opneem? En wat van sy alwetende belofte: “Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep”? En daardie kille dreigement: “Hy tree op teen dié wat kwaad doen”?

Dalk moet ons tóg maar noukeurig hierna luister, juis omdat dit Dawid is. Ook omdat dit Petrus is wat dit hier weer ophaal. Want nóg Dawid nóg Petrus was uitblinkers in goeddoen en kwaad vermy en vrede najaag; die Bybelse getuienis hieroor is trouens nogal verdoemend.

Daarom is hul uitsprake waarskynlik minder triomfantelik as wat ons dink; dit is eerder vol onthou. Daarom is daar straks minder uitroeptekens in hul vermanings en meer trane. So hoor ons hoe hulle sug: Luister maar, want ek was daar.

____________________

Ek hoor, Here, ek hoor …

Uit die beek 2020

Подняться наверх