Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 41

Maandag 3 FEBRUARIE 2020 Lees Psalm 37:1-17

Оглавление

Boosheid en goedheid

Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie … Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is … (v. 1-3).

Groteske tydmors! So sê hierdie psalmdigter. Daar word gans te veel tyd en krag aan boosdoeners afgestaan, en dit ontneem jou van die energie om goeie dinge te doen.

Dié psalm bruis behoorlik van al die goeie raad. As ons dit tog net sal hóór. As ons tog net sal glo dat die boosdoeners en moeilikheidmakers hul dag sal kry. Dat God se kinders hulle nie moet moeg maak met allerlei selfregverdigings en potensiële verduidelikings en blatante wraakgedagtes nie.

Want Psalm 37 se goeie raad rym met Jesus se uitsprake in sy Bergpreek, onder meer dié oor ons alewige bekommernisse oor alles en nog wat (vgl. Matt 6:25-34), en met Paulus se riglyne in Romeine 12 – en presies dié vermaning: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (Rom 12:21).

Want dit is mos “die kwaad” se oorwinning: Jy, Godskind, verloor jou fokus. Jy wroeg en swoeg heeldag oor wat Boosheid alles aan jou doen, jy gee al jou aandag aan sy grynslaggende agente. Saans gaan slaap jy met hul gesnater in jou ore en soggens is hulle – van almal! – jou eerste gedagte.

En só onderwerp hulle jou aan hulle, en word jy inderdaad die slagoffer wat hulle gehoop het jy sal word. Terwyl jy jou gedagtes en jou woorde en jou planne – ál jou aandag – verskuldig is aan die goeie dinge wat jy vir jou Here moet doen. Byvoorbeeld die liefde en sorg wat jy aan jou huismense en buurmense en die brose mense in jou omgewing moet gee.

____________________

Here, leer my om Boosheid en sy trawante aan U oor te laat. Laat die goeie in my oorwin.

Uit die beek 2020

Подняться наверх