Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 46

Saterdag 8 FEBRUARIE 2020 Lees Markus 7:1-8

Оглавление

Godsdienspolisie

Daar is ook nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle hulle hou soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele te was (v. 4).

Ons het maar almal ons ou dingetjies: dit waaraan ons vasklou, die manier waarop ons grootgemaak is, die gebruike wat by ons ingedril is. Die Fariseërs, skryf Markus, “en tewens die Jode oor die algemeen”, het mos hul hande gewas. Voor ete, én nadat hulle van die dorp af gekom het.

Goeie higiëne in ’n stowwerige omgewing? Dalk ’n godsdienstige ritueel, soos hul gebruik om ook al die ander dinge in hul omgewing te was? Dit blyk egter uit Markus se vertelling dat dit ook meer as ’n ritueel was; dit was ’n godsdiensreël. ’n Wet. ’n Gebod. Daar was mense wat jou dopgehou het om te kyk dat jy dit nakom. En as jy dit nié gedoen het nie, moes jy hul afkeuring aanhoor: “Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie …?”

Jesus het min geduld met hierdie dophouers, en Hy haal Jesaja aan om hulle aan die kaak te stel: Julle is vol mooipraatjies, sê Hy, maar jul hart is net vol van julleself.

En dit, lyk dit my, is die ellende van die selfaangestelde godsdienspolisie: Daar is weinig “God” in hul patrollering van ander se diens aan God, en heelwat van hulleself. Hulle loop met hul selfvervaardigde boeie rond, gewoonlik saamgeflans uit ’n goddelose konkoksie van oorgelewerde “waarhede” en goed geselekteerde Bybelverse, en kyk wie hulle kan vasbind en veroordeel. Hulle lyk dikwels op ’n haar na soos duiwelse gesante wat brullend rondloop en soek na iemand om te verslind (vgl. 1 Pet 5:8).

Ja, jy ken hulle maklik uit: Hulle lag min, hulle wys graag vinger én vuis. En hulle sê graag “Here, Here”.

____________________

Maak my oë sag, Here, as ek na ander kyk.

Uit die beek 2020

Подняться наверх