Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 52

Vrydag 14 FEBRUARIE 2020 Lees 1 Johannes 2:7-17

Оглавление

Om haat te dra

As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis (v. 9).

Dit is eintlik doodeenvoudig: Hulle wat die lig vir die wêreld is (deur Jesus self so genoem – vgl. Matt 5:14), se haat vir hul medemens maak die wêreld donker. Hul eie klein duister wêreldjie, ja, want die donkerte wat deur haat gebring word, gooi ’n loodswaar, verstikkende kombers oor hulle.

Inderdaad: Haat neem ’n hele lewe gevange. Dit laat die hater met ’n bitter mond praat én eet, en met wraakplanne gaan slaap én wakker word.

Haat vergiftig ook ’n groter wêreld as net dié waarin jy, die hater, jou bevind. Haat se stank steek grense oor: na jou kinders en kleinkinders en hul vriende, hul skoolmaats, hul sportspan, hul liefdesverhoudings. Dit versprei soos ’n wegholbrand van jou braaivleisvuur af. Daardie mond-kraan wat jy weet jy moet toedraai en dit dan nié doen nie, word ’n verswelgende tsoenami. Die haastige tikvingers op jou selfoon word vuiste wat verwoes en spiese wat deurboor.

Haat is ’n bekende verskynsel, en dit laat deesdae weinig wenkbroue lig. Die onverklaarbare hiervan is egter wanneer gelowiges haat. Jesusvolgelinge wat by hul Voorganger leer oor vergifnis en ekstra kilometers en die ander wang. Wat nalaat om, soos Paulus hulle herhaaldelik maan, vir regeerders – juis ook dié vir wie hulle nie gestem het nie – te bid (vgl. Rom 13:1-7; 1 Tim 2:1-3). Om in vrede met alle mense te lewe, om nie self te wil wraak neem nie.

Niks nuuts nie, nè? Beslis nie vir ons wat in die sagte hande van die Vredevors lewe nie, of hoe? Hoekom dra ons ons dan dood aan haat?

____________________

Verlos my, Here! Maak my las lig.

Uit die beek 2020

Подняться наверх