Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 75

Saterdag 7 MAART 2020 Lees Lukas 7:1-10

Оглавление

Groot geloof

“Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so ’n groot geloof teëgekom nie” (v. 9).

Nadat Jesus die Romeinse offisier se slaaf genees het, hoor ons weer een van sy interessante (om nie te sê “vreemde” nie) uitsprake oor geloof. Hy praat net twee keer in die hele Nuwe Testament oor ’n “groot geloof”: hier, en tydens ’n konfrontasie met ’n Kanaänitiese vrou (vgl. Matt 15:28).

Al twee heidene. En al twee se geloof is volgens Hom groot. Dit is so anders as ons, die Jesusvolgelinge, wat dit net oor “óns kerk se mense” sal sê. Dié na wie ons met ontsag verwys as ’n mens met ’n “ware” geloof, ’n “opregte” geloof.

Nou sê die Joodse familiehoofde Jesus moet die man help, want hy “is dit werd”, hy doen goeie dinge vir die Jode. Tipies, nè? Die Jode is goed geskool in genade as gevolg van verdienste.

Die Romeinse offisier dink egter anders oor dié dinge. Hy sien geen waarde in homself nie; hy sê trouens twee keer dat hy dit nie werd is dat Jesus aan hom aandag gee nie. Jesus moet liefs eenkant bly en net van ver af ’n ietsie sê. Dit sal genoeg wees, dankie. Daarom Jesus se verwondering.

Maar ons hoef nie hieroor verwonderd te wees nie. Twee duisend jaar se uitpluis van en nadenke oor die Jesusverhale moes ons nou al oortuig het: Geloof, deur Jesus se oë, lyk heel anders as dit waarna ons so grootoog kyk.

Geloof is, wat Hom betref, die wete dat jy volkome van Hom afhanklik is. Dat jy in jou magteloosheid weet daar is net Een op wie jy jou kan beroep.

’n Groot geloof leef slegs in ’n klein hartjie. ’n Onwaardige hart is die enigste teelaarde vir geloof wat groei, wat groot word.

____________________

Hoe klein is ek; hoe groot is U. Hoe heerlik, Heer, u Naam!

Uit die beek 2020

Подняться наверх