Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 84

Maandag 16 MAART 2020 Lees 2 Johannes

Оглавление

Kortliks, voorlopig …

Daar is nog baie dinge om vir julle te sê. Ek wil dit egter nie skriftelik doen nie, maar hoop om na julle toe te kom en persoonlik met julle te praat, sodat ons blydskap volkome kan wees (v. 12).

Net dertien versies lank, hierdie briefie, niks meer nie as ’n enkele hoofstuk. Maar veelseggend soos min: Naas bekende Johannes-opmerkings oor die liefde wat gelowiges aan mekaar verskuldig is, is daar die vermaning om mense wat iets anders as Jesus Christus verkondig, liefs nie in jou huis te verwelkom nie. Om diesulkes nie eens te groet nie, “… want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen”.

Hoekom dit? Kan groet dan kwaad doen?

Blykbaar, ja. Aan dié wat jy groet, word jy geken, sê Johannes. Want sê nou iemand anders hoor of sien hoe jy ’n mens groet wat op Christus vloek?

Maar wag, sê Johannes, ek moet die briefie afsluit. Tot weersiens, dan! Daar is nog baie om oor te gesels, maar kom ons wag totdat ons mekaar eendag in die oë kan kyk. Dán praat ons kopstukke.

Ek sou graag deel van so ’n opvolggesprek wou wees. Ek sou onder meer vir Johannes oor die groetery wou uitvra, en wou weet of Jesusvolgelinge nie maar voor die voet moet groet nie. Of ons regtig ons hand van enigeen mag terugtrek, ons rug vir andersdenkendes mag draai.

Dalk weet hy uit ondervinding wat die gevolge van so ’n groetery is: Jy groet ewe vriendelik – en voor jy jou kom kry, sit hulle op jou stoel en verkondig hul soort dwaalleer. Gee hulle die pinkie en hulle gryp na jou geloof.

Ons sal hieroor moet praat, Johannes.

____________________

Here, help my elke dag, in al my doen en late, om te doen wat Jesus sou doen.

Uit die beek 2020

Подняться наверх