Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 73

Donderdag 5 MAART 2020 Lees Jesaja 51:1-3

Оглавление

Herkoms, toekoms

Dink aan die rots waaruit julle gekap is, aan die klipgroef waaruit julle gegrawe is (v. 1).

Onthou waar julle vandaan kom, sê die Here vir sy volk. Dink aan Abraham en Sara, onthou húl geskiedenis. Hoe hulle geword het wat hulle vir julle was. Hoe Ek hulle so gevorm het.

Want dit moet ons altyd weet as ons met waardering oor ons voorgeslagte praat: Dit wat hulle gedoen het wat reg en mooi was, is eintlik die Here se handewerk. Oftewel: Wat goed was aan die goeie ou dae, is God se goedheid.

Erkentlikheid teenoor ons herkoms is ’n voorvereiste vir planne maak. En dit is nie noodwendig ’n geswymel oor ’n goue verlede nie; veel eerder ’n nugter nadenke oor die pad waarmee ons tot hier gekom het, en die moeders en vaders se bydrae daartoe.

Paulus sou mos vir Timoteus wys hoe om die rol van ’n ma en ouma in sy geestelike opvoeding te erken. Ek is seker, skryf Paulus aan sy jong leerling, dat die opregte geloof wat in hulle was ook in jou leef (vgl. 2 Tim 1:5). Dit was hierdie soort geloof wat Timoteus voortaan baie nodig sou kry, vir al die ontberings wat voorlê (vgl. 2 Tim 1:8).

Daar is ’n duidelike band tussen herkoms en toekoms: dieselfde Here. Wat Hy vir ons voorouers was, is Hy ook vir ons. Hy wat hulle met swakhede en al geken het, ken ook ons blinde kolle. Hy ken die familietrekke en die oorgeërfde onvolmaakthede.

Hy weet uiteraard ook van al die gawes wat Hy geslagte lank reeds in ons familie laat voortplant. Dit is seker dié dat ek sy roepstem so knaend hoor …

____________________

Ek hoor u stem, ek weet van u planne vir my. En ek dank U vir hulle wat my geleer het om U te hoor én te gehoorsaam.

Uit die beek 2020

Подняться наверх