Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 90

Sondag 22 MAART 2020 Lees Psalm 23

Оглавление

Vierde Sondag in Lydenstyd

’n Psalm vir Lydenstyd

Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig (v. 4).

Is dit nie dalk ’n fout nie? Hoekom hierdie geliefde psalm in Lydenstyd lees? Hier is tog net sprake van rus en vrede, sekerhede, goedheid en guns, tuis kom.

Ja, dit is so. Maar hier is ook donker dieptes. Hier is teenstanders wat buite staan en wat sekerlik nie met liefde in hul hart die feesviering dophou nie. Dít is dalk een van die vernaamste sleutels tot dié psalm; iets wat te midde van die oorweldigende getuienis van oorvloedige seën misgekyk word. Ja, die lig brand helder en gesellig, maar daar is ook skaduwees. Niks anders nie as ’n doodskaduwee, verklap die 1933/1953-vertaling.

Dit is nie sommer ’n terloopse opmerking deur die psalmskrywer nie, en dit is veel meer as ’n stukkie digterlike perspektief op al die heerlikheid; dit is ’n klipharde werklikheid. Dit is trouens so erg dat die ganse trant van die psalm hier verander: Waar die digter tot hier toe oor die Here-sy-herder gepraat het, begin hy nou mét Hom praat.

Interessant, nè? Die geloofsuitsprake word eensklaps ’n gebed. Die objektiwiteit word intimiteit. Die beskerming van die Herder se stok en staf vertroos hom (vgl. v. 4, 1933/1953-vertaling). Hy weet: Hierdie pad, die donker dal ten spyt, lei hom na die Vaderhuis, waar ’n feesmaal op hom wag. Daar waar hy vir altyd tuis sal wees.

Daar is wel nog die kwessie van die teenstanders. Hulle met die wrewel in die hart. Hy weet hul wense vir hom het niks met vrede en voorspoed te doen nie. Maar hulle is buite; hy sit aan tafel. Hy is nie meer hul vloerlap nie; hy is sy Gasheer se eregas.

____________________

Ek sit aan met dankgesange. U, my Herder, sorg vir my.

Uit die beek 2020

Подняться наверх