Читать книгу Katalekte - Breyten Breytenbach - Страница 30

Re: versoek om lêplek

Оглавление

Vir die vaders van die dorpie van so ’n dertigtal huise

omtrent twee uur met die sneltrein suid van Parys

in die sentrale hoogland waar die landbou nie ryk is nie –

klein kuddes wit beeste af en toe, skape in die kastanjebome

se skaduwees, miskien rape en kool en sonneblomme somers –

julle sal die plek herken.

Dis met die oog op die klein ommuurde begraafplaas

so ’n halfmyl buite die dorp dat ek vir julle skryf.

Sal julle omgee as ek daar begrawe word?

Ek weet julle ken my nie en my aksent is anders. Maar

ek sien daar is dalk nog plek tussen die vyftig of so grafte,

of miskien onder ’n familiesteen weggevrotte name

bo ’n lappie gat waar die geslagte lankal uitgesterf het?

Ek belowe ek sal my gedra, nie lelik sing Saterdagnagte nie,

my deel bydra vir die wurms en die miere ter wille

van gesoute burgerskap en gesonde vergaan.

Ek sal nie aanlê by julle vroumense nie en saam

met julle vroom wees al kan ek nou nie onthou

uit watter geloof ek stam nie.

Julle sal geen las hê van onwelkome besoek van mense

van kleur met gerwe sewejaartjies of gediggies

of dronk lywe nie.

Ek sal selfs my naam verander om in te pas,

iets met die klank van julle beboste heuwels en middagslapie

wolke, my baard afskeer, die hande laat vereelt,

’n hemp met ’n kraag aantrek en skoene

met stewiger sole dra.

Wil julle dan nie maar oë toemaak

en dit vir die vreemdeling gun

om te verdwyn in julle poort,

om opgeneem te word in julle vergeet nie?

Katalekte

Подняться наверх