Читать книгу Die respektabele meneer Hartslief - Chris Karsten - Страница 11
ОглавлениеVroegoggend by ’n rooi verkeerslig vang ’n plakkaat met groot letters die loodgieter se oog: Nuutste oor koplose motorfietsryer.
Hy wink ’n koerantverkoper nader, en ry na die parkeerterrein van ’n winkelsentrum. Daar koop hy ’n koppie wegneemtee en sit die berig in die kar en lees. Hy volg die verslaggewing oor die ongeluk daagliks, al is daar min nuwe inligting, dieselfde ou herkouery, net in ander woorde, vir elke druppel sensasie gemelk.
Meneer Elie Hartslief, die oorledene se broer, sê hy en sy familie het niks verder om by te voeg nie en vra dat hulle met rus gelaat word.
Hy lees ook van die polisie se mediakonferensie oor die vordering van die ondersoek, en is veral geïnteresseerd in die ondersoekbeampte se reaksie op die vraag of die gebrek aan ’n kop die ondersoek bemoeilik.
Luitenant Kosile sê dit kan ongetwyfeld die ondersoek bemoeilik, maar as dit korrek en wetenskaplik benader word, kan dit ook juis die leidraad wees wat die saak oplos. “Ek glo aan Sherlock Holmes se opmerking in Die hond van die Baskervilles: ‘Hoe meer outré en grotesk ’n voorval, des te meer verdien dit noukeurige ondersoek …’ Ek sal die jong man se moordenaar of moordenaars kry, dis ’n belofte.”
Die loodgieter skud sy kop en gooi die leë kartonkoppie op die vloer tussen ander leë kartonhouers, opgefrommelde servette en ou koerante. Hy kyk na die horlosie in die paneelbord: 06:31. Dis nog vroeg. Hy oorweeg dit om nog ’n koppie tee te gaan koop. Maar die tee brand sy lippe, wat droog en gebars is. Hy soek na sy lipsalf en gaan koop nog tee. Dan vertrek hy.
Naby Cresta draai hy in ’n systraat in en parkeer. Hy het sy Van’s Plumbing-pet op en gaan vroetel agter in die bak tussen sy gereedskap, oorgedra van die Saab na die Subaru. Hy vind wat hy soek: ’n metaalvoorwerp wat soos ’n kleinerige koordlose boor lyk, captive bolt pistol of CBP, word dit genoem. Hy het dit lank terug by ’n landboukoöperasie in Mpumalanga gekoop; dit word in abattoirs en soms op plase gebruik vir die pynlose dood van ’n slagdier. Daar is twee soorte: een met ’n skerp staalpyl wat die brein binnedring, die ander met ’n rondekop-staalpen wat noodlottige konkussie sonder bloed veroorsaak. Hy het die rondekop-een gekies. En het dit al twee keer gebruik, maar nie vir ’n pynlose dood nie, ook nie vir diere nie.
Die loodgieter maak ’n breë gordel met ’n leersak vir gereedskap om sy heupe vas en druk die CBP daarin, ook ’n platbektang, sy flits-skokstok, blou latekshandskoene, ’n rol kleefband en ’n stoflap. Hy hang ook ’n nylonsak oor sy skouer waaruit lengtes koper- en PVC-pyp steek en hink terug om die hoek na Beyers Naudé. Aan die straatfront van ’n winkelgebou slenter hy verby ’n verfwinkel, slotmaker en kleremaker, almal nog gesluit, tot by die deur van ’n pandjieswinkel. Teen die ruit staan geskilder: Pawn King,Your Honest Pawnbroker – Best Prices for Gold & Silver. Dis ook nog gesluit.
Hy vang van onder sy pet die lens van die sekuriteitskamera bokant die deur. Skulp sy hande langs sy gesig en loer deur die toonvenster van versterkte glas en diefwering na die vet eienaar doenig agter ’n uitstaltoonbank. Hy klop teen die ruit. Die man kyk op en beduie met ’n vinger na die horlosie om sy pols. Die loodgieter klop harder en beduie na die gereedskapsak om sy heupe.
Die man kom aangewaggel, sluit die deur met beringde vingers oop en vra deur die veiligheidshek: “Ja, wat’s dit? Ek maak eers agtuur oop.”
Hy is middeljarig, sy hare swart gekleur en blink agteroor gekam met haarpommade. Ja, dis die man op die foto wat Mister P gegee het. Hy haal sy hand uit sy sak en wys ’n muntstuk in sy palm vir die Pawn King. “Krugerpond, ek’t kontant nodig.”
“Vat dit bank toe.”
Die Pawn King probeer ongeërg klink, maar die loodgieter sien die gierigheid in sy oë.
Hy klop op sy gereedskapsak. “Ek het vier sulkes. En ek’s haastig, die werk wag.”
Die Pawn King maak of hy dit bepeins. Dan sê hy: “Nou goed, miskien kan ek vir jou ’n guns doen. Kom in.”
Hy sluit die veiligheidshek oop, laat die loodgieter in, sluit weer die hek en deur agter hulle en slof vooruit na die glastoonbank met die kasregister.
’n Versameling musiekinstrumente vang die loodgieter se oog: kitare, viole, trompette, klarinette en twee saksofone. Hy gaan staan by die saksofone en lees die beskrywings. Die een is ’n Allora Chicago-tenoorsaks met ougoud-lakvernis, teen R13 000. Die ander een, ook ’n tenoor, is ’n Amati 73Pq met die nek en beker van soliede nikkelsilwer, teen R20 000.
“Jy’s duur,” sê hy.
“Ek’s nie Krismisvader nie. En wat de fok weet jy van saksofone? Kom, ek het nie heeldag tyd nie. Waar kry jy die Krugerponde?” Dit klink eerder soos: Waar het jy dit gesteel?
Agter die Pawn King wikkel die loodgieter sy hande in die latekshandskoene in en trek die flits-skokstok uit sy sak. Toe die Pawn King agter die toonbank instap, gee hy hom ’n kort, kragtige skok agter teen die nek. Die man skreeu en val op die vloer, skoppend en rukkend. Die loodgieter kry hom onder die oksels beet en sleep die stuiptrekkende liggaam by die kantoorhok in. Hy druk die deur toe, trek die blindings voor die binnevensters toe en kry hom met ’n getrek en gestoot tot op sy draaistoel. Hy bind hom met kleefband om sy bors aan die rugleuning vas, sy twee arms weerskante om die polse aan die armleunings, en plak sy mond toe.
Die loodgieter vryf oor sy seer knie en begin die kantoor inspekteer. Op ’n rak sien hy die CCTV-monitor en toetsbord. Hy druk ’n paar toetse totdat hy homself op die skerm sien. Met ’n trekking aan sy mondhoek kyk hy hoe hy die Pawn King van agter teen sy nek skok. Hy wis al die beelde uit en skakel die CCTV-stelsel af. Hy soek verder tussen rakke en liasseerkabinette en kry die kluis met kombinasieslot. Dis vasgebout aan die vloer langs ’n kroegyskassie. Hy haal ’n bottel water uit die yskassie en keer dit oor die Pawn King se oliekuif uit. Die man proes en steun en sy ooglede fladder op.
Die loodgieter pluk die kleefband van sy mond af en wys na die kluis. “Wat’s die kode?”
“Fok jou!” sê die Pawn King in ’n sproei van spoeg. “Wie’s jy?”
“My werkgewer soek sy geld. Jy skuld Mister P geld. Jy betaal nie jou skuld nie. Dis al ses maande.”
“Wie de moer is Mister P?”
“Meneer Petrescu. Van Poenari, waar jy op skuld gaan dobbel en drink.”
“Fok hom ook!”
Die loodgieter plak weer die man se mond toe en haal die platbektang uit die gereedskapsak wat aan sy heup hang. Hy leun oor en neem die Pawn King se linkerhand, die naels pragtig en glansend versorg. Hy lig die dik ringvinger met die lang swart hare op, woel die platbektang soos ’n naelknipper oor die nael, sluit die tang se bek, voel-voel of hy ’n behoorlike greep het en pluk die nael met ’n kort, kragtige beweging uit.
Die Pawn King se oë verstar. Dan begin gesmoorde krete agter die kleefband. Sweet slaan in groot blink pêrels op sy neus en bolip uit, die are op sy voorkop bult, sy dik wange tril, trane loop uit sy oë en snotstrepe uit sy neus. Hy wriemel en steun en stoei teen die kleefband.
Die loodgieter kry die nael van die middelvinger in die bek van die tang, en pluk.
Hy staan tru en beskou die bloederige vingers, kyk hoe die Pawn King spartelend en huilend beheer oor sy blaas verloor en sy broek bepis. Toe die Pawn King se oë omdop en sy gesig ’n gevaarlike pers kleur kry, pluk hy die kleefband af en keer water in sy mond uit.
“Die kode vir die kluis,” sê die loodgieter. “En as jy skree, pluk ek jou tong uit. Verstaan jy?”
Die man knik, sy oë nou pleitend, sy gesig nat van water en trane en snot en speeksel.
“Wat’s die kode?”
Die Pawn King mompel en die loodgieter pons die syfers in. Hy maak die deur oop en bekyk die pakke note en juweliersware. Hy plak die Pawn King se mond weer toe, haal die pype uit die nylonsak en begin die inhoud van die kluis in die sak pak. Toe die sak vol is, rits hy dit toe. Met die stoflap vee hy die pype een vir een sorgvuldig skoon van alle vingerafdrukke en enige moontlike DNS-materiaal. Dan sluit hy die pype in die kluis toe.
Hy kom met ’n hand op sy knie en ’n harde kreun orent, voel hoe die pyn deur sy been skiet, in sy heup in. Hy tol die stoel om sodat die Pawn King se rug na hom gekeer is en haal die CBP uit. Hy trek die slagpen terug, plaas ’n slagdoppie met loskruit in en haal dit oor. Met die geriffelde greep wat gerieflik en knus in sy palm lê, druk hy die loop teen die Pawn King se dik nek, net bokant sy kraag.
“Sit stil … hou jou kop stil,” sê hy en plaas sy ander hand op die Pawn King se kop.
Hy weet wat nou gaan gebeur: jy trek die sneller en dit aktiveer ’n dodelike kettingreaksie wat net ’n breukdeel van ’n sekonde duur, vinniger as wat die oog kan sien. Die slagpen tref die slagdoppie, die loskruit ontplof, die plofslag vuur die staalpen af soos ’n koeël in ’n loop, die stomp punt van die staalpen van net 12 cm lank tref die vet man se skedel teen ’n snelheid van vyftig meter per sekonde. Dit dryf beensplinters deur die dura mater in die kleinharsings in en veroorsaak massiewe en noodlottige skok.
Hy trek die sneller. Doef! ’n Konvulsie ruk deur die Pawn King se liggaam en sy kop val vooroor.
Die loodgieter trek die kleefband om sy bors en polse los en van sy mond af. Hy soek in die lessenaar se laaie, kry ’n kam en kam die nat swart hare weer netjies agteroor.
Hy stap by die agterdeur uit en trek dit weer op knip, in ’n gang af verby toilette, uit na ’n private parkeerterrein en terug straat toe waar die groen Subaru geparkeer staan.