Читать книгу Die respektabele meneer Hartslief - Chris Karsten - Страница 8

Оглавление

Dit breek Elie se hart om Antie só te sien. Hulle sterk engel, hulle steunpilaar, ook vir so baie ander. Sy sit net daar. Sê sy het vir niks krag nie, sê sy kan aan niks anders dink nie, net aan Basie. Bly hom voor haar oë sien, die liewe, sagte, mooi kind. Om só verskriklik te sterf. Sy bly prewel: “Hoekom Basie? Heretjie, hoekom hý?”

Elie probeer troos, almal probeer troos, maar die groot verdriet is ook in hulle harte. Almal deel dieselfde hartseer, en nie een verstaan wat gebeur het nie.

Wanneer die mense kom, probeer Antie dapper wees, die trane inhou. Ontvang hul medelye saam met die hoenderpasteie, bobotie, frikkadelle, koue vleise, slaai en soetgoed vir die rouendes: melkterte en koeksisters. Dae lank is daar ’n onophoudelike stroom, want Antie van die sopkombuis is bekend in die hele Dip. Hulle kom van oral: Fordsburg en Paarlshoop en Langlaagte en Mayfair en Crosby, uit Brixton self, so ver as van Auckland Park, Westdene en Sophiatown, met hulle treurgesigte, hulle woorde van troos en hulle hande vol eetgoed, die armes en minder armes, die geseëndes en minder geseëndes.

Antie trek Elie ’n slag aan die arm nader en sê hy moet tog seker maak Lottie skryf almal se name neer sodat hulle later dankiesê-briefies kan stuur. Álmal, nie net die hoës nie, want dis so maklik om die sout van die aarde te vergeet. En ja, haar eenvoudige drumpel word stof getrap deur ou, afgeloopte skoene sowel as die blink skoene van bankbestuurder Buys en sy Miriam (vrywilliger in die sopkombuis), dominee Vos en sy Marie (vrywilliger), skoolhoof Van As en mevrou Van As (onvrywilliger), dokter Galant en sy Mona (vrywilliger), supermarkbestuurder Zungu en sy Pumi (vrywilliger), afgetrede kolonel Modise en sy Bongi (albei vrywilligers), kaptein Bees van Graan en sy Liesbeth (vrywilliger).

Vir die begrafnis kry hulle vir Antie ’n rolstoel; sy is ’n groot vrou en haar bene is lam, sê sy, asof hulle nie haar liggaam kan dra nie. Die meisiekinders help haar in die rolstoel by die kerk in, en weer uit. Lottie en Poppie, en Dot. Dot kan net sowel deel van die familie wees, want sy kom al van skool af met hulle saam, veral saam met Elie. Almal het gedink dis net ’n kwessie van tyd voor Wagner se “Bruidskoor” vir hulle twee gaan opklink.

Elie weet wat word nou agter sy rug gefluister: Toe raak hy mos ’n vet kat daar in Sandton, toe’s Dot nie meer goed genoeg vir hom nie. Kry ’n lekker joppie en kry daai Wanda, Miss La-di-da. En agterna word geskinder oor hoe Wanda en Dot op die begrafnis by mekaar verbykyk, of regdeur mekaar kyk, asof die ander een ’n lugspieëling is.

Nie hy nie. Hy kyk nie verby of deur Dot nie. Hy betrap hom ’n paar keer onder sang of gebed dat sy oë in haar rigting dwaal. Veral by die graf, waar die sonlig in haar hare glinster, die eens vaal gemmerhaartjies nou die kleur van ligte heuning. Ook terwyl sy vir Lottie en Poppie met die rolstoel help, want die seuns is Basie se draers, hulle name op die begrafnisbrief lui: Elie Hartslief (broer), Rasmus Hartslief (broer), Boela Lerm (neef), Sampie Lerm (neef), Moks Lerm (neef). Die sesde draer is oom Sparky Heyl (huisvriend), Dot se pa. Hy staan in vir Bartel Lerm (oom), verloopte pa van Boela, Sampie, Moks en Lottie.

Die dag ná die begrafnis staan Elie weer op die padskouer van die M5, starend na die sloot waarin sy broer se liggaam gelê het, die gras en grond swart gevlek. Dis die tweede keer dat hy hier kom. Daar is nou ook ’n houtkruisie ingeplant, met ’n vrag blomme en ruikers aan’t verlep, en vet kersies versmelt tot patetiese hopies gekleurde was.

Hy laat sweef sy oë verder, oor polgras en kakiebos en geel perdeblom en pers Skotse dissel. Oor ’n vergete stuk geel polisielint nog fladderend aan die doringdraad, oor die troostelose landskap van plastieksakke en papiere en KFC-bokse, geroeste blikke en bottelskerwe.

“Vreemde besigheid.” Luitenant Kosile se ken knik pad toe. “Kyk al daardie merke op die teer, die wrak van die fiets is ver van sy liggaam af gekry. Jou broer moes laat waai het … toe hy afval, het die fiets nog amper honderd tree aan gejaag. Maar dis wat daarná gebeur het wat eintlik vir my vreemd is. Die bloedsmeersels op die teer wys sy liggaam is van die pad af tot hier in die sloot gesleep. Maar in die sloot is min bloed, al die bloed van sy … van sy keelwond is op die teer. Hy’t geen ander bloeiende wonde gehad nie. Dit beteken iemand was met die ongeluk hier, het dit sien gebeur, of kort daarna. Jou broer is afgesleep terwyl hy nog gebloei het. Die teenwoordigheid van iemand hier verklaar ook sy … sy noodlottige besering.”

“Noodlottige besering? Jy bedoel sy onthoofding.”

“Û … ja, dis wat ek bedoel. Ek wil nie onsensitief klink nie, maar ek sukkel nog om te verstaan wat presies hier gebeur het. Pleks dat die ooggetuie jou broer ná die ongeluk help, onthoof hy hom. Hoekom?”

“Terwyl hy nog geleef het.”

“Soos ek sê, hy moet baie vinnig gery het. Miskien het ’n rondloperdier skielik voor hom oor die pad geloop … hond, donkie.”

“Hy sou gerem het, dis mens se instinktiewe reaksie as iets skielik voor jou in die pad verskyn. Maar jy sê hier’s geen sleepmerke van sy bande nie.”

“Ek oorweeg net alle moontlikhede. Die forensiese patoloog sê dit lyk of die onthoofding met ’n skerp voorwerp soos ’n swaard gedoen is, een enkele skoon snit. Of ’n guillotine, maar wie ry met ’n guillotine in sy kar rond? ’n Swaard, ja.” Die luitenant swyg ’n oomblik – heel teatraal, dink Elie – druk aan sy bril en vra: “Hoe verklaar jy dit?”

Elie staar na die speurder, smal van skouer en rond van heup soos ’n goeiechristen-peer. “Hoe verklaar ék dit? Watse vraag is dit, luitenant? Jý is die ondersoekbeampte, jy’s veronderstel om die teorieë te hê, nie ek nie. Ek is ’n boekhouer, ek sit dag en nag in my kantoor na kolomme syfers op my rekenaarskerm en kyk. Wat is jóú teorie?”

Die luitenant staar oor die veld, na doer in die rigting van die Cradle of Humankind, suig deur sy tande en sê: “Dis ’n groot fout om te teoretiseer voor jy genoeg inligting het … Die gevaar is dat jy verlei kan word, dat jy die feite kan verdraai om jou teorie te pas, pleks dat jy ’n teorie ontwikkel wat by die feite pas.”

“Julle leer diep dinge in die polisie, luitenant.”

“Dis Sherlock Holmes, in ‘’n Skandaal in Boheme’.”

Hy sien hoe die geleerde speurder nou eers weer peins, en hy voel hoe die brand uit sy maag opstoot en hy kry die Phipp’s-bottel uit sy sak, skud dit ’n paar keer en vat ’n goeie sluk.

Luitenant Kosile hervat: “Die patoloog sê hy’s nog besig om al die bevindinge van die outopsie vir sy finale regsgeneeskundige verslag te oorweeg en te bestudeer. Hy wag ook nog vir die uitslae van weefseltoetse, sulke goed. Intussen dink hy aan maniere van onthoofdings, in die hoop dit help om ’n moontlike wapen te identifiseer. Hy sê die valbyl en swaard was histories die mees algemene metodes vir teregstelling. Die swaard word steeds gebruik, kyk hoe waai die koppe in Saoedi-Arabië en op sulke plekke. Terloops, hy sê sekere ou kwakke het geglo ’n onthoofde kop kan nog ’n hele paar minute sien en hoor voor die brein begin afsluit …”

“Ek stel nie in kwakke belang nie, luitenant. Verstaan ek reg dat die patoloog se teorie is dat my broer tereggestel is?”

“Ons weet nie van al sy kopwonde nie, maar die keelwond was natuurlik noodlottig. Die patoloog sê jou broer het ook baie ander ernstige beserings gehad: beenbreuke en af ribbes – een het ’n long binnegedring. Ook kwaai kneusings en inwendige bloeding. Van daardie wonde kon ook sy dood veroorsaak het, jy kan sulke beserings verwag by ’n motorfietsongeluk teen so ’n hoë spoed. En nadat sy nekare afgesny is, sou hy hom binne dertig sekondes doodgebloei het. Hy’t nie gely nie, as dit enige troos is.”

“Maar hoekom hom onthoof as hy reeds sterwend was?”

“Dis presies wat my en die dokter ook pla – iemand wou baie seker maak hy’s dood. Die dokter sê onthoofding met ’n lem – valbyl, gewone byl, swaard, slagtersmes, selfs ’n kragsaag – word gewoonlik van agter aan die nek gedoen. Net die draad van ’n garrot word voor om die keel vasgetrek, maar met die garrot is die oorsaak van dood nie onthoofding nie, dis verwurging en versmoring. Daar was ook gevalle van renjaers wat in ongelukke gedeeltelik deur die kenband van hul valhelms onthoof is, soos Tom Pryce in 1977 op Kyalami.”

Luitenant Kosile bly ’n oomblik stil, asof hy eers die Kyalami-ongeluk herleef. Vervolg dan: “Die patoloog sê dit lyk, ten minste voorlopig, of jou broer se onthoofding voor aan die keel begin het. Hy kan dit sien aan die wondweefsel, die spiere en are wat lyk of dit van voor af deurgesny is. Daar is ook vreemde skuurmerke hoog aan die bors van sy baadjie, veral aan die kraag. Dit lyk of ’n glyende lem op pad keel toe die skuurmerke veroorsaak het, en van die baadjie se vesels is in die nekwond gekry. Dit het die patoloog na ’n ander teorie gelei: draad wat oor ’n pad gespan word. Dis al in ’n hele paar rillerflieks gebruik, maar het ook al in die werklike lewe gebeur.” Nou haal die luitenant ’n notaboek uit, lek oor sy voorvinger, blaai en sê: “Ja, hier’s dit. Die dokter noem ’n paar voorbeelde. Marco Badiali, Italiaanse Motocross-ryer, naby Modena op sy Yamaha onthoof deur klavierdraad tussen bome oor ’n plaaspad. Daniel Ricketts, ’n Amerikaner, op sy Honda-kwad deur klavierdraad onthoof wat hyself gespan het om sy daggaplantasie naby Syracuse te beskerm. Dis ook bekend dat die Nazi’s in die oorlog klavierdraad gespan het vir Geallieerde Jeep-drywers en hulle passasiers.”

Elie verteer eers hierdie teorie en sê dan: “Maar wie het dit gedoen, luitenant? En hoekom? Hoekom was dit nodig om ’n negentienjarige se lewe te neem, eintlik nog ’n kind, iemand met ’n sagte hart? Dís die antwoorde wat ek soek. Sal jy my daarmee kan help, vir my en my familie?”

“Natuurlik sal ek help,” sê luitenant Kosile entoesiasties. “Dis my plig, om te beskerm en te dien.”

“Jy soek ’n siek mens, jy weet dit, nè, luitenant? Siek in die kop. ’n Ongevoelige barbaar, ’n psigopaat wat ’n geskende liggaam vir ons los om te begrawe. Ons as familie het nie eens die voorreg gehad om vir laas na Basie te kyk en van hom afskeid te neem nie. En dit sal ons nooit vergeet of vergewe nie.”

“Ek sal hom kry, meneer Hartslief. Ek’s soos daardie Mounties van Alaska: Ek kry áltyd my man.”

“Kanada.”

“Askies?”

“Die Mounties is van Kanada, nie van Alaska nie.”

Die respektabele meneer Hartslief

Подняться наверх