Читать книгу Die respektabele meneer Hartslief - Chris Karsten - Страница 5

1. ’n Moord in die nag

Оглавление

Antie

In haar droom kom twee swart figure aan. Hulle kom staan voor haar, nie te naby nie, net so dat sy hulle klere kan uitmaak, alles in blinkswart leer: ritsbaadjies, broeke, stewels, handskoene. Onder hulle arms is valhelms vasgeknyp, beskilder met psigedeliese patrone in skel neonkleure wat lyk of dit gloei. Sy kan net een se gelaatstrekke onderskei, maar ’n vreemde gesig, en jonk, hare in ’n poniestert.

’n Stralekrans omhul die tweede gesig soos dié van ’n heilige op ’n Middeleeuse portret, maar só skerp dat sy nie sy gelaatstrekke kan uitmaak nie, net ’n wasigheid. Tog, iets aan sy postuur lyk bekend, miskien die manier waarop hy staan: die hak van sy regterstewel skuins gestut teen die binnekant van sy linkerstewel, hand in die broeksak. Koel, traak-my-nieagtig. Soos Basie graag staan. Maar ís dit Basie?

Sy strek haar hand na die wasige een uit, om hom nader te lok sodat sy kan seker maak of dit Basie is. Hy bly vasstaan. Sy wil vorentoe tree, maar dis of haar voete in ’n dik, taai melassestroop vasgesuig is. Hy lig sy hand in ’n groet. Hulle draai om en stap weg. Sy roep agterna om hulle te keer, maar die klank steek in haar keel vas, en hulle vervaag en verdwyn.

* * *

Die loodgieter

Die ou Saab met trapleer vol verfspatsels op die dakrak was eens silwer en blink soos ’n spieël, nou is dit verbleik, plek-plek ingeduik, geskraap, geroes en onvanpas by dié spoggerige landgoed waar die rygoed meestal glansend swart en luuks Duits is.

Toegang tot die Sylvania Golf Estate & Marina is deur twee hekke: een vir genooide besoekers – hulle name word by die waghuis bevestig – en die ander vir inwoners. Die bestuurder van die Saab steek sy arm by die inwoners se hek uit, vee ’n elektroniese kaart deur die gleuf en wag dat die hek ooprol. ’n Vuil gholfpet met Van’s Plumbing daarop is laag oor sy voorkop getrek, sy sonbril en gesig in skadu.

Die loodgieter ry verby ’n gemanikuurde gholfbaan en swierige huise en lanings met palms en welige struike kleurryk in die blom. Die bootklub is bedrywig en hy kry eers ’n ent agter die klubhuis parkeerplek. Hy betrag die omgewing en dink hierdie rykes het ’n lekker lewe: hulle verdwyn in die week om iewers te gaan geldmaak en kom naweke terug om ’n potjie gholf en hul bote te geniet. Sy blik verskuif na die plesierbote wat aan die dryfdokke vasgemeer is, veral na een wat sag op die deining wieg: ’n witte, blou seildak wat die kajuit teen son en reën beskerm, swierige esse wat die naam omhels, Spiriduş, wurmpie onderaan die laaste ş.

Hy kyk rond. Dit lyk nie of iemand juis aandag aan hom en sy Saab gee nie. Daar is altyd werkers wat onderhoud en herstelwerk kom doen. Hy vertrek weer, amper luierend tussen die woonhuise in, asof hy na ’n spesifieke adres soek. Al die huise is in eenvormige styl, almal dubbelverdiepings, almal wit villas soos hy al gesien het op idilliese prentjies van Griekse eilande wat in die son lê en bak. Sy bestemming is net twee straatblokke verder, die laaste straat parallel aan die dam se oewer. Dié villa is half verskuil agter geil bougainvilleas en asaleas in rooi en geel en pienk. Hy herken dit, hy was al voorheen hier.

Hy klim uit en haal die leer van die ou luikrug se dakrak af, stap met ’n effense hink na die bagasiebak. Hy vroetel tussen koperpype en dikker PVC-pype en in ’n gereedskapkis met tange, vyle, ystersaag, pypsnyer, boutsnyer, gasvlam, vuil lappe, rolle silwer kleefband. Hy sit ’n koordlose boor, ’n litiumbattery en die plastiekoog van ’n bewegingsensor in ’n swart nylonsak by ’n digitale kamera, rits die sak toe. In ’n oop sysak, maklik bereikbaar, druk hy ’n gekombineerde flits-skokstok en haak die sak se band oor sy skouer.

Hy smeer lipsalf aan sy skurwe lippe, vryf oor ’n stoppelwang en skud ’n Lucky uit ’n pap sigaretpakkie. Hy leun teen die Saab en laat die rook by sy neus uitkrul terwyl hy weer die omgewing van onder sy pet se tuit bespied, aan een mondhoek ’n ligte spiertrekking. Hy trap die stompie dood, stap met die leer en nylonsak om na die agterdeur en deaktiveer die alarm met afstandbeheer. Bo in die hoofslaapkamer se ruim aantrekkamer klim hy met die leer deur die luik tot in die donker plafon. Hy skakel die flits aan, installeer die bewegingsensor en litiumbattery en koppel dit aan die digitale kamera. Hy rig die kamera se lens en die sensor se oog op die dubbelbed. Die huis is toegerus met Wi-Fi.

* * *

Antie

Sy skrik wakker en haar groot bors hyg. Sy beur op haar sy en skakel die bedlig aan, sluk dorstig uit die waterglas langs houertjies met voorskrifpille vir kopseer en slaaploosheid. Sy trek ’n Kleenex uit die boks, vee oor haar neus en dep die waterdruppels aan haar ken. Haar wekker sê: 02:23. Ook op die bedkas lê haar leesbril op ’n beduimelde Bybel, langs M.E.R. se So is onse maniere. M.E.R. lê bo-op Elizabeth Barrett Browning se Selected Poems. Sy druk ’n grys haarsliert van haar voorkop weg en leun terug teen die kussings, nou wawyd wakker. Haar hart galop asof sy pas ’n wedloop afgelê het.

Sy weet dat sulke droomverskynings niks goeds inhou nie. Dit gebeur met álmal: iemand kom besoek haar in ’n ligkrans in haar slaap, en dan, ’n dag of ’n week of ’n maand later, gebeur iets. Nou hamer dit in haar kop: Nie Basie nie, tog net nie Basie nie.

In die eerste halo-droom wat sy kan onthou, was dit haar eie ma. Sy was net tien toe haar ma haar daardie nag kom besoek, nog doer in Boosmansbos se ou plaashuis. Haar ma het langs haar bed kom staan en haar hand na haar uitgestrek. Sy het haar ma se hand probeer vat, maar daar was net lug. Haar ma het met haar probeer praat, haar mond het woorde gevorm, maar niks het uitgekom nie. ’n Wit wasigheid om haar ma se kop – ’n oureool, het sy later gelees.

Antie lê met haar hand teen haar bors en algaande bedaar haar gejaagde asem. Net die verwoede steekpyn in haar voorkop. Sy skud ’n pil uit ’n houertjie, sluk dit met water af en lê weer terug. Sy droom ook normale drome en kry normale nagmerries soos alle mense; die oureool-drome is ongereeld en voel nie soos normale drome nie. As kind het sy gedink hulle is normaal, dat almal maar droom van sulke omwasemde mense wat later doodgaan.

In die oureool-droom van destyds het haar ma omgedraai en stadig van die bed weggestap, al hoe vaer, en uiteindelik versmelt. Sy het wakker geskrik, haar bors toegetrek, hygend na asem. Die droom was só werklik dat sy getwyfel het of dit ’n droom was. ’n Week later het haar ma siek geword. Sy het nie weer uit die hospitaal huis toe gekom nie.

Jare daarna, ná hulle al lank van Boosmansbos padgegee het Johannesburg toe, het haar pa haar ook een nag dynsig kom besoek, drie dae voor die rotsstorting in die Crown Mines-skag waar hy toe gewerk het.

Nou die twee motorfietsryers, en sy dink aan die dag ’n paar maande terug, die middag toe Basie haar so kinderlik opgewonde aan die hand uit die kombuis buitentoe getrek het.

“Kom kyk, Antie! My Kawa, mooi, nè? Kawasaki Ninja, dis die regte naam.”

Kon bars van trots oor die lemmetjiegroen fiets, jy sou sweer hy stel haar aan sy nuwe meisie voor.

“Het jy ’n liksens vir die ding, Basie?”

“Natuurlik, Antie.”

“En waar kry jy die geld? Lyk of hy splinternuut uit die boks kom. Hoe gaan jy hom afbetaal kry?” Arme kind het nie juis ’n stywe beursie nie, is vakleerling by sy broer, diens karre, maak karre reg, weet alles van karre af.

“Elie het hom vir my gekoop. Wel, ek’t hom gaan uitsoek, Elie is net saam om die tjek te teken.”

Elie, Elie. Bederf die kinders in die afgrond in. Maar hulle verdien dit, en Elie ook. Lyk of hy dit geniet om te kan bederf, noudat hy so in die botter geval het daar in Sandton. Bederf haar ook, met ’n nuwe sopkombuis. Sê as hy haar help, help hy ook al die armes na wie sy omsien.

“Dis ’n mooi fiets, Basie. Maar jy moet versigtig wees met die ding.”

* * *

Die loodgieter

Die loodgieter gaan sit oorkant die lessenaar, haal sy hoed af en skuif ’n geheuestokkie oor die gepoetste blad na sy werkgewer. Hy leun terug in sy stoel en hou Mister P dop: dié druk die geheuestokkie by sy rekenaar in, tik iets, frons, staar stilswyend na die skerm, knik ’n slag vir homself. Dan stoot ’n blos van sy nek en kiewe in sy wange op, tot hy rooi in die gesig en opgeblase soos ’n brulpadda daar sit.

Hy noem Mister P sy werkgewer, maar hy is op geen betaalstaat nie. Hy doen kontrakwerk en word kontant betaal; dis soos albei dit verkies. No names, no pack drill, sê Mister P.

Die loodgieter vee oor sy yl hare en kyk nou na sy hoed. ’n Mooi hoed, netjies op die hoek van die lessenaarblad, uit almal se pad uit. Wanneer hy sy werkgewer besoek, dra hy nie die vuil Van’s Plumbing-pet nie, dis onfatsoenlik. Sy fedora, liggrys vilt sonder stoffie of rafel, is nie Made in China nie. Die etiket binne aan die sweetband sê Made in Italy, glo met die hand gemaak, glo konynpels. In die swart hoedband is die grys spikkelveer. Dís nie Made in Italy nie, dis van een van die tarentale in die populierbos op sy plasie, daar by Koorsboom, noordwes van Johannesburg, Muldersdrift se koers toe.

Die loodgieter kyk op toe Mister P kug en iets brom. Maar dis blykbaar nie aan hom gerig nie, en hy laat sak weer sy blik, nou na die geraamde foto langs die leë whiskyglas en vol glasasbak waarin die vet sigaar lê en smoor. Uit die raam van delikate piouterfiligraan glimlag ’n jong vrou met skitterwit tande en klam bruin oë. Lang swart hare omraam haar gesig. Onder die vol rooi onderlip gee ’n klein moesie ’n eksotiese trek aan haar soel gelaat. Mister P se Stella.

Die loodgieter het hom eers verbeel hy sien sigeunerbloed in haar, dalk uit Mister P se ou geweste. Agterna gehoor nee, sy kom nie uit Roemenië, Hongarye of enige ander Oos-Europese plek nie, kom uit die Vrystaat, en dis sý wat hom Afrikaans leer praat het.

Teen die muur agter Mister P, langs sy kroegtoonbank, is rakke met ’n paar boeke en tydskrifte, ornamente, en nóg ’n foto, groter en in ’n silwerraam, van ’n ouer blonde vrou en twee seuns. Die loodgieter weet die foto is al ’n hele paar jaar terug geneem, want die seuns is nie meer só jonk nie. Mister P spog graag oor sy seuns, veral oor die oudste een, in matriek en ’n goeie rugbyspeler, soos sy pa glo eens was. Maar sou hulle weet van Stella in die piouterraam in die ereplek op hulle pa se lessenaar? Nee, dié verdwyn sekerlik in ’n laai as hulle hul pa hier in sy kantoor kom besoek, met of sonder hulle ma.

Mister P is veilig, niemand kan hom onverhoeds hier betrap nie, daarvoor word hy té goed beskerm. Sy eerste linie is sy lyfwagte, groot javels met dik nekke en boarms, kaal koppe, tatoes. Dan sy formidabele PA langsaan, Maggie, net ’n alarmknop ver van sy vingers af.

Hy skat Mister P al in die vyftig, skoon geskeer en silwer hare, of grys, afhangend van hoe die lig daarop val. Sy hemp is vandag dofpienk, met BOSS op die sak geborduur, boonste knope oop om sy goue nekketting te vertoon, knus tussen die grys borshare, of silwer, afhangend van die lig. Aan sy regterpinkie is ’n goue ring met ’n swart steen, aan sy ringvinger ’n eenvoudige troupand.

Die loodgieter dink aan die foto’s wat Mister P so aandagtig bestudeer. Hy het die wyehoekfoto’s self op die geheuestokkie gelaai: ’n kaal paartjie in verskeie intieme posisies op en tussen die wanordelike lakens van die groot dubbelbed. Die man lyk skaars twintig, met kort hare die kleur van hawermout, fris liggaam beswete, aan sy bors ’n klein tatoe wat lyk na ’n vlieënde voël. Ook die vrou se vel is bedek deur ’n sweetglans.

Die loodgieter het nie na ál die foto’s gekyk nie, dit interesseer hom nie. Hy wou net seker maak die gesigte is herkenbaar, die fokus skerp genoeg. Dit is. Op een soen sy die voël met pruillippe, op ’n ander lê ’n duidelike soenafdruk soos ’n rooi tatoe op sy maag. Sy lyk ouer as hy, miskien al vlak in die dertig, haar swart hare erg konfoes.

Mister P draai uiteindelik van die rekenaar weg en begin praat, stadig en sag en afgemete, dan al hoe harder, al hoe vinniger, werk homself op tot tierende waansin, slaan met sy vuis op die blad, klap die foto in die piouterraam om sodat die glas in skerwe oor die lessenaar spat, skreeu in tale.

Sy PA loer ’n slag besorg by die deur in. Hy jaag haar met woedende handgebaar terug asof sy die oorsaak van alles is.

Dan bedaar hy, vee met ’n sakdoek oor sy gesig, klad die spoeg van sy lippe en mondhoeke, haal diep asem, skink nog whisky, suig verwoed aan sy dooie sigaar, steek dit aan. En begin weer praat met blou wolke om sy kop, maar rustiger.

Die loodgieter luister, vra net enkele vrae. Hy verstaan sy opdragte.

’n Paar dae later, in ’n toonlokaal in Rosebank, bekyk die loodgieter die uitgestalde motorfietse een vir een: Honda, Ducati, Aprilia, Yamaha, BMW, Kawasaki … By die Kawasaki Ninja 250R steek hy vas.

Hy leun nader, druk sy pet agtertoe, bestudeer die prysetiket met spesifikasies. Dit registreer net vlugtig by hom dat die fiets binne ses sekondes van nul tot 60 km/h kan versnel, met ’n topsnelheid van 160 km/h. Hy stel veel meer belang in die sitplekhoogte, wat aangegee word as 785 mm. Hy haal ’n maatband uit sy ou leerbaadjie se sak, hurk langs die fiets en meet self die hoogte: ja, 785 mm.

Hy kyk om na die jong verkoopsman met geringde oor en gejelde hare. Hy sien dié het hom uiteindelik verwerdig om sy maer gat van sy stoel op te lig en kom oor die blink teëlvloer aangedrentel, selfoon in die hand.

Die loodgieter wag hom in. “Klim op,” beveel hy. “Sit op die saal.”

Die verkoopsman wil protesteer. Die loodgieter kry hom aan sy arm beet en druk hom na die fiets toe. “Klim op!”

Die verkoopsman klim op.

“Vat die handvatsels. Maak of jy ry.”

Die loodgieter meet die hoogte van die vloer tot by die ryer se skouers en laat rol sy maatband terug. Hy maak ’n aantekening in ’n klein notaboek en stap sonder groet uit na die ou Saab, die leer steeds op die dakrak.

* * *

Antie

Vroeg een Sondagoggend ná hy die fiets gekry het, skaars lig buite, verras Basie haar in die kombuis. “En as jy so vroeg uit die kooi is? Waarheen is jy op pad?”

“Brekfisrit, Antie. Saam met die Ruff Riders.”

Sy beskou hom. Hy staan trots voor haar in sy nuwe leerklere, sy houding uitdagend. Sy glimlag. Ai, my sagmoedige ou Basie, probeer tog so hard om ook rof en onbeskof te lyk.

“Is jy nou ’n Ruff Rider, Basie?”

“Nog nie, Antie, maar ek ken een. Hy’t my genooi om saam te ry, gesê ek moet kyk of ek dit like.”

Sy is effe onrustig. Sy weet sy kan hom nie bly oppiep nie, maar vir haar is hy nog pure kind. Herder, hy kan mos nie op negentien al ’n ding soos ’n Ruff Rider word nie!

“Is hulle soos die Hell’s Angels? Ek wil nie dat jy met sulke …”

“Nee, Antie, relax. Dis net ’n social club. Ry bietjie rond, chill op die bikes, geniet die buitelewe, voel die wind deur jou hare.”

“Nou ja toe, maar wees versigtig.”

Sy kyk hom agterna toe hy wegry. Nie een van Ester se kinders is eintlik van die breker-soort nie. Vat vir Elie. In die kleuterskool al met sy neus in boeke gesit. Ken van swaarkry, maar niks van ’n rowwe lewe nie.

Ná Elie is dit Rasmus, maar hulle verskil soos dag en nag. Gee hom ’n tang, nie ’n boek nie. Hy hou daarvan dat sy hande vuil word, veral in die binnegoed van ’n kar. Kom nie uit sy werkswinkel of dop uit nie. En erg broeis oor Basie.

Dan Poppie, die laatlam van sestien. Eintlik ook Ester gedoop na haar oorlede ma, maar almal noem haar van kleins af Poppie oor sy so mooi is. Vir Poppie sal die drie broers deur die hel loop en terug, weet Antie. Sy ook.

* * *

Die loodgieter

Buite is dit al diep skemer; binne by ’n hoektafel in die klubhuis in Fourways sit die loodgieter saam met ’n jong man, ring deur ’n neusvleuel, hare agteroor in ’n poniestert. Teen ’n muur is die klub se geraamde embleem: die naam Ruff Riders gesuperponeer op ’n Harley.

“En hy ry Sondae saam?” vra die loodgieter met ’n koppie rooibostee voor hom.

Die jong man sluk aan sy bier. “Ja, hy’s mos nou ook ’n Ruff Rider.”

“Sy ook?”

Leo knik. “Sy’s lankal een, sy ry ook elke Sondag.”

“En ná brekfis? Wat gebeur dan?”

“Niks nie, ons ry sommer net rond, tjek die plek uit. Dis cool daar by die dam.”

“En tjek hulle die plek saam met julle uit?”

“Nie eintlik nie.”

“Hulle gaan doen hulle eie ding?”

Leo knik.

Die loodgieter skryf in sy notaboek, steek ’n Lucky aan en bestudeer die spyskaart op die swartbord wat onder die groot ROOK VERBODE-teken hang.

Bredie met rys – R35

Hoenderpastei – R35

Vis & tjips – R30

“Ek soek die bredie,” sê hy.

Leo kyk rond na die kelner, sien haar nie en gaan plaas die bestelling by die toonbank. “One stew!” skree die kroegman oor sy skouer kombuis toe.

“Wat van jou?” vra die loodgieter.

Leo sluk die laaste van sy bier en tel sy valhelm op. “Moet waai. Ander date, ’n chick by die McTavern.”

Die loodgieter kyk vraend op na hom toe hy bly staan.

“Ching-ching,” sê Leo en vryf sy duim en voorvinger.

Die loodgieter vroetel in ’n binnesak, haal ’n paar gekreukelde note uit en druk dit in sy palm.

Die volgende oggend kom hy met die ou Saab op die R512 uit die rigting van Broederstroom, draai net voor Lanseria regs op die R540 na Kromdraai, en ’n paar kilometer verder by ’n sirkel links op die M5 na Randburg en Zwartkop. Hy ry verby ’n pienk padstal regs van die pad en verder aan oor die brug oor die Krokodilrivier. Net ná die brug trek hy op die padskouer af.

Oorkant die teerpad, skaars tien tree die veld in, staan ’n geroeste windpomp met ’n haasbek-wiel langs ’n ou sinktenk op ’n betonstellasie. Teen die windpomp se raamwerk hang ’n skewe geel bordjie, Cash for Scrap onnet daarop geverf. Die loodgieter tree die afstand van sy kar op die linkerskouer oor die pad na die windpomp aan die oorkant in die veld af en skryf in sy notaboek. Nou betrag hy die staalraam. Haal sy maatband uit, loer in sy notaboek, meet ’n hoogte af, strek en krap ’n merk op die geroeste raam.

Terug in die Saab skryf hy weer in sy boekie. Op die eerste bladsy lui sy notas:

Sondag

1. Ruff Riders ry vir brekfis na The Bluenose, Hartbeespoortdam.

2. Vertrektyd van Fourways: 08:00.

3. Roete: William Nicol, R511.

4. The Bluenose na Sylvania Golf Estate & Marina.

5. Roete van Sylvania na windpomp op M5.

6. Vertrektyd Sondagaand: ± 23:00.

* * *

Antie

Sy het dit by Ester se graf vir haar belowe: dat sy die kinders sal liefhê en grootmaak soos haar eie. En dit doen sy, tien jaar al. Dit was kort ná daardie mistige droom waarin Ester en Karools haar so saam-saam kom besoek het. Hulle was altyd so gelukkig saam, het steeds hande vasgehou, tydig en ontydig, selfs ná vier kindertjies. En Ester kon so lekker lag, aansteeklik uit haar maag uit. Elie het dieselfde maklike lag as sy ma, ook haar mond en oë, amper kleurloos soos water.

Drie weke ná daardie droom ry ’n kolelorrie hulle naby Witbank dood – ironies genoeg op pad terug van die begrafnis van Karools se broer. Dis geluk by die ongeluk dat hulle alleen in die kar was. Antie het die kinders opgepas, want hulle moes skool toe.

Skielik, vier kinders wees. Daar was geen kwessie nie, sy het Elie en Rasmus en Basie en Poppie, toe net ses, soos haar eie in haar huis ingevat. Snaakse ou lewe, het sy nog gedink: hier’s ek, sonder kind of kraai, en skielik het ek vier kinders, nie een my eie nie, maar ten minste van my eie bloed.

Sy wás ’n slag swanger, op twintig; sy en Sybrand net ’n jaar getroud. Daardie nuus was die gelukkigste oomblik van haar lewe. Patrys, dit was die baba se naam. Maar Patrysie is nooit gedoop nie. Die nag ná die moeilike geboorte het sy gedroom hoe sy en Sybie by die doopvont staan met Patrysie in die vou van haar arm, die gesiggie wasig.

Ná die routyd het hulle weer probeer, en weer en weer. En berus. Sy was dertig toe die dokter ’n stoflong by Sybie diagnoseer. Die torakschirurg het op die X-strale beduie en Sybie se bors oopgemaak en weer toegemaak en hom ses maande gegee. Die dokter was optimisties; twee maande later het hy, slapend langs haar, sy verskyning in haar oureool-droom gemaak.

Toe was sy alleen, manloos en kindloos – tot die bloemen kolelorrie ook vir Ester en Karools weggevat het.

* * *

Die loodgieter

In ’n hardewarewinkel in Boskruin net buite Johannesburg bekyk die loodgieter ’n nuwe houtsteel vir ’n besem. Hy plaas dit in sy kooptrollie. Dan soek hy tussen die rolle Röslau-klavierdraad, vervaardig van ’n spesiale allooi met hoë breekkrag. Hy kies Nommer 18, met ’n deursnee van 1,02 mm en lengte van 25 meter. Volgens sy berekeninge meer as genoeg. Hy koop ook ’n U-klembout met moere en ’n stewige staalhandkatrol met ’n briekgrendel vir hoë weerstand, wat op dieselfde beginsel as ’n viskatrol werk.

Tuis bout hy die katrol agter in die bagasiebak aan die Saab se onderstel vas. Hy wen die klavierdraad aan die katrol op en heg die U-bout aan die punt van die draad.

* * *

Antie

Sondagoggend is Basie vroeg in die kombuis, sy motorfietsklere aan, valhelm onder die arm.

“Moenie so worry nie, Antie,” sê hy.

“Natuurlik moet ek oor jou worry, Basie. Nare goed gebeur met motorfietse. En met bendes.”

“Die Ruff Riders is g’n bende nie, Antie. Dis net om te chill.”

“Drink hulle as hulle so kuier? Wat van dwelms en goed? En die knaap wat jou na hulle toe genooi het, het hy ’n naam?”

“Nou klink Antie nes Rasmus: Wie’s die Ruff Riders, waar gaan julle brekfis eet, hoe vinnig jaag hulle, hoe laat kom jy terug, suip hulle? Lottie het my aan hom voorgestel. Sy naam’s Leo. Sy’t hom in die McTavern ontmoet.”

O ja, natuurlik, dink Antie met ’n sug. Lottie, wie anders? Broer Bartel se wilde loot, en parmantig. Bedags by die modelskool, saans kelner by die McTavern vir sakgeld, terwyl sy wag vir haar groot kans om model te word.

“Lottie het my niks van hom gesê nie. Is hy haar nuwe kêrel?”

“Nee, Antie, ek dink hy like haar meer as wat sy hóm like. Ons het pelle geword toe hy hoor sy’s my niggie. Nooi my skielik na die Ruff Riders toe, vra of ek ’n goeie woordjie in Lottie se oor kan fluister.”

Antie is nie oor Lottie bekommerd nie, dis oor Basie wat sy gedroom het. “En julle ry elke Sondag die hele ent pad Harties toe net om brekfis te gaan eet?”

“Ja, Antie.”

“G’n bier saam met die brekfis nie?”

“Antie weet mos ek drink nie eintlik nie!”

Sy soen hom teen die voorkop. “Ek weet. Oukei, maar gedra jouself.”

* * *

Die nagklubbaas

Dis laataand en die nagklubbaas se hemp is soos gewoonlik halfpad oopgeknoop. Hy lê met sy minnares in die waai van sy arm op ’n bank in haar tuinhuis in Sandton. Die TV is sag aan en met haar oë op die skerm krap sy met ’n rooi nael aan die goue ketting tussen sy borshare.

Hy kyk oor haar kop na die geraamde foto’s van hulle twee saam op die TV-kas: op ’n strand, langs ’n swembad, op ’n bosjeep met twee kameelperde tussen akasias, op ’n boot met die naam Spiriduş sigbaar teen die romp, ’n nabyskoot van hulle laggende gesigte wang teen wang. Die nabyskoot onderstreep die verskil in hulle ouderdom, en dit vlei hom dat iemand só mooi en só jonk hom steeds aantreklik vind.

Sy reik na die wynbottel en hervul sy glas. Glimlag vir hom en soen hom op die wang. Hy teug aan sy wyn, leun oor om sy glas op die tafel neer te sit en sy iPad op te lig. Sy duim vee oor die skerm. Hy hou die iPad voor haar oë, blokkeer haar uitsig op die TV, en hou haar gesig dop.

Haar oë rek en haar soel vel verloor meteens kleur. Voor haar gesig vee sy duim weer oor die skerm en ’n volgende foto verskyn, en ’n volgende, en volgende, almal van haar en ’n jong man kaal saam op ’n bed.

Die nagklubbaas staan van die bank op en kyk af na haar.

“Dis nie wat jy …” begin sy.

“Stop!” Hy lig sy hand om haar stil te maak. “’n Tyd terug vra ek jou of jy ’n ander lover het. Jy sweer nee, hand op die Bybel. Nou dié.”

Sy begin om haar kant te stel, verskoning aan te bied, maar hy val haar dikwels in die rede. Uiteindelik sê hy: “Oukei, dis wat jy gaan doen … Luister na my! Hierdie naweek … jy hou hom Sondagaand daar, jy trakteer hom tot elfuur die aand.”

Sy dep die nattigheid in haar ooghoeke met ’n snesie. “Hoe kan ek dit doen, hom …”

“Ek weet jy kan nie, nie noudat jy die foto’s gesien het nie. Maar probeer, doen jou fokken bes, hou hom besig. Elfuur sê jy jou kop is seer, wat ook al, jy wil gaan slaap – alleen. Jy sê volgende Sondag is als weer pienk en plesierig, dan speel jy weer met sy voëltjie.”

“Maar as hy …”

“G’n maars nie! Dis wat jy Sondagaand gaan doen. Het jy dit?”

Sy kyk pleitend na hom. “Ek sal dit als doen, maar moenie hom seermaak nie.”

* * *

Antie

Vandat Basie die fiets gekry het, is hy elke Sondagoggend vroeg uit. Wanneer Antie laatmiddag op die Sabbat nog so ’n bietjie skuinslê voor die aand se kosmakery begin, hoor sy die sagte gebrom van die fiets en dan is haar hart gerus, want Basie is veilig tuis.

Maar toe verander sy patroon: hy begin Sondae al later tuiskom, later nooit voor sononder nie, soms eers tienuur, elfuur die aand wanneer sy en die vrywilligers al klaar is met die voorbereiding vir Maandag se sopkastrolle en kospakkies.

Hy kom saans by die kombuis in, sit sy valhelm op die tafel langs die kosbakke neer, handskoene in die helm, rits sy motorfietsbaadjie oop. Dan gooi hy sy arms om haar, druk haar styf vas, plak ’n vet soen op haar wang. Dis hoe Basie is, nie skaam om sy gevoelens te wys nie.

Dis juis met dié aandruk dat sy een Sondagaand vrou aan hom ruik. En dis nie sommer net anti-sweet van Checkers se rak af nie; Basie kom met ’n duur vrou se parfuumwalm huis toe.

“Wat’s haar naam?” vra sy.

“Wie, Antie?” Pure gemaakte onskuld, maar ’n skamerige frons en ’n blosserigheid op sy wange.

“Wanneer kom stel jy haar voor? Jy weet mos dis hoe ons dinge hier doen.”

“Holy shit! Dis waar, hè? Antie ís met die helm gebore.”

“Jou taal, Basie! Nee, g’n helm nie, dis net my neus wat nie lieg nie: ek ruik haar.”

“Ons is net … û … pelle, Antie, dis al.”

“Dik pelle, lyk dit my. Luister, Basie, ek gee nie om vir meisiekinders nie.” Nie dat sy eintlik ’n keuse het nie; hulle draf steeds op ’n streep agter hom aan, al van skooltyd af. “Maar as jy ’n spesiale een het, kom wys haar, laat ons haar ontmoet. Soos Elie gedoen het met … ê …”

“Wanda,” help Basie.

Wanda, ja, Elie se nuwe girlfriend van Sandton. “Hy’t haar aan die familie kom voorstel, dis wat jy ook moet doen. Bring haar vir ’n Sondagete.”

“Bietjie van ’n larnie, hè, Antie? Hy moes nooit vir Dot gelos het nie, en ek het dit vir hom gesê ook.”

“Ons kritiseer en oordeel nie ander mense nie, Basie. Wat ons doen, is om ons vriende aan mekaar voor te stel. Ons is arm, maar ons skaam ons nie vir ons familie nie, nè?”

“Ek skaam my nie.”

“Nou vertel my dan van haar. Wie is sy presies? En hoe oud is sy? Hoe goed ken jy haar? Waar’t jy haar ontmoet? Waar bly sy? Is sy …”

Hy sug. “Ek’t haar by die Ruff Riders ontmoet.”

’n Ruff Rider met duur parfuum? “Wat vang julle alles daar op Harties aan? En waar bly sy? Ek hoop nie julle ry in die nag terug van die dam af nie, dis ’n gevaarlike stuk pad daai. En ’n meisiekind hoort nie in die nag op ’n motorfiets nie.” Nie eens in die dag nie, wou sy byvoeg, maar los dit.

“Sy kom nie saam terug nie, sy slaap Sondagaande op Harties. Hulle’t ’n huis daar … en ’n boot.”

“Jy kuier by háár familie, maar jy bring haar nie na jou familie toe nie! Hoe oud is sy as haar ouers toelaat dat sy ’n Ruff Rider word?”

“H’m … bietjie ouer as ek.”

“Bietjie! Hoeveel bietjie? Is jy met ’n ouer vrou deurmekaar, Basie, ’n geskeide vrou?”

“Nee, Antie, sy’s ongetroud. Ek moet gaan slaap, Rasmus skop my vroeg uit môreoggend.”

Toe sien sy hy is nog nie reg om te praat oor die nuwe Ruff Rider-meisie nie. Hy sal wel kom gesels wanneer hy so voel. Hy kom altyd gesels.

* * *

Die loodgieter

Sondagaand ry hy op die M5 van Honeydew af, sy venster oop. Hy skiet sy sigaretstompie uit en kyk na die paneelhorlosie: 22:42. Die pad is grafstil, selfs nie eens meer ’n taxi nie. Hy skat hy het, met veilige speling, omtrent ’n uur tyd.

Voor hy die brug bereik, doem die donker geraamte van die ou windpomp links van die pad op. Hy lig sy voet van die petrolpedaal en luier stadig oor die regterbaan tot op die oorkantste padskouer. Hy parkeer so vyf tree van die teer af, presies oorkant die windpomp, die Saab se neus in die rigting van aankomende verkeer. Hy skakel die ligte af, klim uit en haal die leer af. Agter in die bak, in die skerp lig van die flits – wat hy ook al as skokstok gebruik het – wriemel hy sy vingers in ou werkshandskoene in en haal ’n moersleutel uit.

Hy knip die briekgrendel van die katrol los en herlei die klavierdraad agter by die bak uit en bo deur die dakrak. In die wolklose sterrenag trek hy die draad oor die pad na die windpomp toe, die leer in sy ander hand. Hy lig met die flits en kry die merk wat hy uitgekrap het, omtrent op dieselfde hoogte as die Saab se dakrak. Hy staan op die leer, klem die U-bout met die klavierdraad om die windpomp se raam en draai die moere stewig vas. Hy lê die leer in die lang gras neer en terug by die Saab wen hy die draad met die katrol op totdat dit styf oor die pad gespan is, van die windpomp tot by die dakrak. Toe hy die eerste sterk weerstand aan die slinger begin voel, knip hy die katrol se briek vas en haal die besemsteel uit wat hy op ’n spesifieke lengte afgesaag het. Hy loer heen en weer vir aankomende ligte, en volg die klavierdraad met sy hand tot in die middel van die donker pad. Hy meet die hoogte van die draad met die besemsteel, stap terug en wen die katrol verder op. Hy herhaal die proses totdat die klavierdraad in die middel van die pad presies tot die hoogte van die besemstok gespan is. Hy knoop ’n stuk vuilwit lap om die draad teen die dakrak en wen die katrol af tot die draad weer plat oor die pad lê, ingeval ’n eensame voertuig verbykom.

Hy loer by die kajuit in en sien dis nou 23:26. Hy bekyk die skerf van die maan en die Melkweg se sterrewolke en luister na die naggeluide, die hoe-hoe van ’n uil iewers, en ver oor die veld die geblaf van ’n hond. Dan is dit weer stil.

Rustend met sy heup teen die Saab draai hy skielik sy kop effe skuins. Ja, hy verbeel hom nie, hy hoor ’n nuwe geluid, vaagweg in die verte. Hy luister hoe dit geleidelik harder word, en skriller, die klank aangedra deur die stil nag.

Hy hink om na die bak en draai die katrol se slinger. Hy hou die wit lap dop wat al nader aan die dakrak beweeg, soos ’n vreemde swewende naginsek. Nou kan hy ook die ligkolletjie op die reguit stuk pad sien aankom, nog ver van die brug af, maar die geloei van die enjin is nou duideliker, beslis meer as 10 000 r.p.m., hy skat die spoed van die fiets op so 130, 140 km/h.

Hy draai die slinger tot die lap teen die dakrak se raam is, knip die briekgrendel stewig vas en toets die draad met sy hand. Dis styf gespan soos ’n snaar en die vibrasie maak ’n sagte pieng, skaars hoorbaar bo die gehuil van die motorfiets.

Hy klim agter die stuurwiel in en staar stip na die aankomende lig.

Toe die fiets oor die brug kom, word hy vir ’n oomblik verblind deur die skerp koplig, maar hy kan hom die swart figuur gebuig oor die handvatsels voorstel, die dun draad oor die pad onsigbaar teen só ’n snelheid.

Die motorfiets dawer verby, SWOESJ! deur die oop ruit.

En die loodgieter is verbaas dat niks meer dramaties gebeur nie, dat hy niks erger hoor of voel nie, net asof ’n sterk windvlaag skielik aan die kar pluk, en weer los. Maar in die truspieël sien hy nou die ligstreep van vonke oor die teerpad soos die stert van ’n komeet, en hy hoor die aaklige geskeur en geskuur van metaal en die hoë gekerm van die enjin.

Die helse kakofonie duur net enkele sekondes.

Dan, asof niks gebeur het nie, is die nag weer stil, maar ’n dieper stilte.

Hy klim uit en snuif-snuif in die naglug. Steeds met die handskoene aan stap hy tot by die windpomp en draai die klembout los. Hy gaan wen die katrol agter in die bak op en maak die leer op die dakrak vas.

Hy gaan lig met die flits op die teerpad waar die draad gespan was. Geen bloed nie. Hy klap die bak toe, maak ’n U-draai en bly in eerste rat op die skouer van die pad.

So twintig, dertig meter verder val die flou kopligte op die eerste teken van iets wat gebeur het: ’n valhelm in die middel van die pad.

Hy stop, klim uit en gaan staan by die helm, bestudeer dit in die skerp lig van sy flits. Hier is wel ’n poel bloed. Hy buk en haak sy vingers om die kenband van die helm, lig dit bakarm op sodat die bloed nie op hom drup nie. Dis verbasend swaar. Hy stap hinkend terug, maak die luikrug oop en sit die helm in die bak op ou olielappe neer. Hy stut dit met sy gereedskapkis sodat dit nie kan rondrol nie.

Hy kruie aan tot sy ligte op ’n figuur soos ’n winkelpop in swart klere op die teerpad val, die arms en bene in onnatuurlike posisies verbuig. En koploos. Dié slag sien hy baie bloed, seker van die hart wat nog gepomp het nadat die nekare reeds afgesny was.

Hy kry ’n stewel beet en sleep die liggaam van die pad af tot in ’n sloot. Hurk met ’n sagte kreun en rits die motorfietsbaadjie oop, vroetel in die binnesakke en kry ’n beursie. Met die flitslig in sy mond geklem beskou hy die inhoud. Hy sit die beursie terug en haal ’n selfoon uit, druk dit in sy eie sak en rits die baadjie toe. Hy druk met ’n palm op ’n knie om hom orent te stoot en kreun weer toe sy kniegewrig klap. Dit voel asof ’n gloeiende vuuryster in sy knie ingedruk word.

Hy kruie aan en kry die eerste wrakstukke waar die slingerende fiets finaal momentum verloor en oor die teer geskuur en toe ’n voor deur die padskouer die veld in geploeg het.

Die loodgieter staan in die ligte van sy kar en adem die reuke van petrol en uitlaatgasse en warm metaal en rubber en bloed en dood in.

Dan klim hy terug in die Saab, steek ’n sigaret aan en ry Johannesburg toe. By die BP-vulstasie op die N1 draai hy van Beyers Naudé af en koop by ’n wegneemkosplek tee in ’n kartonkoppie. Hy sit in die kar, drink sy tee en bestudeer die adreslys op die motorfietsryer se selfoon. Sy skurwe lippe vorm die name terwyl hy lees: Antie, Bakkies, Boela, Elie, Hester, Leo, Lottie, Moks, Pauline, Poppie, Rasmus, Sampie …

Hy blaai terug na Leo en druk die nommer. Die foon lui lank voor ’n slaperige stem sê: “Hallo …” Hy hoor iets val, ’n gemompel en die stem sê weer: “Hallo? Basie? Wat de moer bel jy dié tyd van die nag?”

Die loodgieter beëindig die oproep, sluk aan sy tee en haal die selfoon se battery en SIM-kaart uit. Hy gaan gooi die battery en leë koppie in ’n vullisdrom. Die kaart sal hy by sy huis gaan opsny.

Net voor een die oggend draai hy agter die Brixtontoring links uit Vygie in Pypiedraai in en hou stil. Hy klim uit, soek ’n hamer agter in die bak, kap die selfoon flenters en smyt die stukke tussen die lang gras en onkruid in. Hy sit die hamer terug en stap met die valhelm en ’n boutknipper na ’n huis agter ’n ogiesdraadheining. Die lendelam hek is met ’n ketting en slot vas. Die buurt se ou huisies lyk omtrent almal dieselfde: sierstene, skoorstene, stoepe met rooi waksvloere, tuine vol onkruid. Net die heinings verskil, en hier en daar is nog die oorspronklike kniehoogte muurtjies. In die skynsel van ’n straatlig sien hy die motorfiets langs die stoep staan, deur die voorwiel se speke aan ’n pilaar vasgeketting. Hy knip die hek se ketting af en gaan haak die valhelm aan die kenband oor een van die Honda se handvatsels.

Dan ry hy na die Helen Joseph-hospitaal in Perth, skaars tien minute weg, vir sy laaste afspraak van die nag. Sy kontak, ’n nagverpleër by ongevalle, voorsien hom van ropivakaïen, handelsnaam Naropin, in ruil vir kontant. Pynstillers oor die toonbank het aan die begin die pyn in sy knie verlig, nie meer nie. Kortisoon help, maar het erge newe-effekte. Die nagverpleër het die kortisoon vir hom gegee, toe bupivakaïen. Dié het goed gewerk, totdat die loodgieter op ’n mediese webwerf gelees het dat bupivakaïen “kardiotoksies” kan wees vir sekere pasiënte. Met sy rokery wou hy nie so ’n kans waag nie.

Die nagverpleër wou weet hoekom hy nie dokter toe gaan? Hy het gesê hy betaal die verpleër baie geld vir sterk medisyne, hy het nie ’n dokter ook nodig nie. Die verpleër sê hy dink die probleem is geskeurde kruisligamente, miskien selfs ontsteking in die kop van die femur. En dit gaan erger word.

Die Naropin spuit hy direk onder die knieskyf in die ligamente in. Net lokale verdowing soos ropivakaïen verlig die ergste pyn. Daarvoor is hy bereid om die verpleër mildelik te vergoed, veral omdat dié ook suksinielcholien aan hom verkoop – suks, noem die vent dit.

Die loodgieter gebruik nie die suks vir sy knie nie, dis vir ander mense bedoel. Dis ’n hoogs effektiewe spierverslapper; binneaars toegedien sal net 120 mg binne twintig sekondes elke spier in die liggaam verlam. Jy’s volkome by jou positiewe, maar totaal hulpeloos, het die verpleër gesê, jy kan letterlik nie jou oë knip of selfs asemhaal nie. Wat beteken sonder kunsmatige asemhaling is jy kapoet, sê die verpleër. En die verlamming kan tot vyf minute duur voor jy van die effek begin herstel.

Om iemand vir daardie lewensbelangrike vyf minute te help asemhaal, sê die verpleër, gaan koop ’n klein CPR Pocket Mask, sommer by enige apteek. Plaas dit oor die mond en neus van die pasiënt en blaas lug deur die pypie met eenrigtingklep by die longe in. Dis baie meer effektief as mond-tot-mond om iemand te help asemhaal.

Wat die loodgieter veral interesseer, naas die vinnige en potensieel dodelike werking van suks, is dat dit glo byna onmoontlik is om suks agterna in die liggaam op te spoor. Want dit metaboliseer tot molekules wat natuurlik in lewende selle voorkom, soos suksiensuur. En dis nie wat die verpleër sê nie, dis wat hy self op mediese webwerwe nagevors het.

Die respektabele meneer Hartslief

Подняться наверх